full screen background image

Yuandré se frisbee wêreldkampioenskap-ervaring

553

“Dit was ‘n ongelooflike belewenis wat moeilik is om in woorde te beskryf. Die toernooi het my idee en gevoel oor frisbee heeltemal verander.”
Dit is die woorde van Yuandré van Zyl, onderwysstudent verbonde aan Laerskool Pietersburg-Oos en die enigste frisbee-speler van Limpopo wat van 12 tot 18 Julie in Londen, Engeland aan die World Flying Disc Federation (WFDF) se World u.23 Ultimate Championships deelgeneem het.
“Omdat dit die eerste keer is wat Suid-Afrika ‘n o.23-span vir die kampioenskappe ingeskryf het, het ons nie geweet wat om te verwag nie. Ons het die kampioen­skappe goed begin deur Duitsland die eerste aand tydens ‘n oefenwedstryd met 8-4 te oorrompel,” sê Van Zyl.
Sy sê tydens hul eerste amptelike wedstryd teen Japan het Suid-Afrika gewys hulle verdien om daar te wees, maar na ‘n lang 121 minute op die veld het Japan net-net met ‘n eindtotaal van 15-14 geseëvier.
“Na die wedstryd het mense duidelik oor ons begin praat en ons wedstryde het groter skares gelok. Ek is seker daarvan dat ons almal se verwagtinge oortref het. Ons het ‘n algehele sesde plek uit twaalf spanne verower en het ses van ons tien wedstryde gewen. Ons het ook die tweede plek vir die span met die beste gees met Amerika gedeel,” vertel Van Zyl.
Tydens die uitspeelrondes om die vyfde tot agste plekke te bepaal, het Suid-Afrika weer teen Japan te staan gekom waar Suid-Afrika hierdie keer met 14-10 gewen het.
“Die kampioenskappe was baie interessant, veral om ander spanne se tegniek van vinnige aanvalle tot sterk verdediging te beleef. Ons het teen sterk spanne gespeel, maar het hulle hard laat werk vir elke punt. My liefde vir frisbee het verdriedubbel na die kampioenskappe,” sê sy.
Van Zyl sê haar droom is om die sport in Polokwane te laat groei en veral jong mense daarby betrokke te kry.
Sy nooi belangstellendes uit om elke Maandagaand vanaf 17:30 op die rugbyveld tussen die twee stadions aan te meld en saam te speel.

RC Myburgh
>>[email protected]