full screen background image

Wees gewaarsku teen dié slinkse bedrieërs

340

“Wen die lotto, kry bevordering by die werk én die tenders waarop jy lankal hoop. Verander jou lewe ten goede, vee jou trane af en kyk jou vyande in die oë. In kort, kry die antwoorde om al jou probleme in die niet te laat verdwyn en kry miljoene.”
Dit is maar enkele van die vele valse beloftes wat minstens sewe psigiese helers (psychic healers), werksaam in Polokwane en Pretoria, aan mense maak wat verby die punt van moedeloosheid en desperaatheid is en hul laaste hoop, om uit ‘n baie groot finansiële verknorsing te ontsnap, op die kitsprobleemoplossers plaas.
‘n Besoeker aan een van die helers in die stad het Polokwane Observer se kantore Dinsdag besoek en ‘n ernstige waarskuwing gerig dat hierdie swendelaars wat saamwerk, vermoedelik Ugandese burgers, uiters slinks en lewensgevaarlik is.
“Hulle buit die mees weerloses uit en sal nie huiwer om hul doodsdreigemente uit te voer nie.”
Die bron wat om verstaanbare redes nie haar naam genoem wil hê nie, vertel: “Met ‘n besoek aan die heler wys hy letterlik aan jou ‘n pot geld. Al wat jy hoef te doen is om ‘n paar duisend, in my geval R26 000 te betaal. In ruil daarvoor tree hy dan met die voorvadergeeste in verbinding wat sal verseker dat jy R10 miljoen wen. Hy kan ook ‘n afspraak vir jou maak om self met die voorvadergeeste te praat en in die proses kry jy selfs briewe van dié geeste met jou naam op. Hy bied selfs aan om met behulp van sy kontakte in die bank die R26 000 namens jou in jou rekening te laat inbetaal totdat jy jou miljoene het.
“Sodra jy kop uittrek, begin die dreigemente. Ek wil mense waarsku wat naïef en wanhopig is, veral vir geld, dat hulle nooit ‘n sent sal sien nie. Die mense is gewetenloos, uitgeslape en verander voortdurend van adres. Hulle ry in Jaguars en BMW’s in die stad met vervalste nommerplate rond en is skatryk. Moenie enige persoonlike besonderhede verskaf nie, want dit is waar die dreigemente later begin,” waarsku sy.
Die bron kon nie daarin slaag om hulp of terugvoer van die polisie te kry nie, selfs al het sy skriftelike bewyse verskaf.
Die polisie se kommunikasiehoof, Ntobeng Phala het aan Polokwane Observer bevestig dat verskeie bedrogsake voortdurend deur die publiek in die verband geopen word. Hy sê geld moet by ‘n betroubare finansiële instansie belê word en daar bestaan nie ‘n kortpad na kitsrykdom nie. “Vermy die gespuis.”

Storie:ELNA ESTERHUYSEN
>>[email protected]