full screen background image
Danae Marais van Curro Heuwelkruin tydens die Suid-Afrikaanse Oewerhengelkampioenskappe by die Bloemhofdam in Desember waartydens sy as junior kampioen aange­wys is. Foto: Verskaf

Visvangkampioen Danae is geen papgooier

948

Wanneer dit by visvang kom bestaan daar nie iets soos geluk in Danae Marais se woordeskat nie en reken sy dat dié sport se tegniese aspek dikwels onderskat word.
Die 17-jarige leerder van Curro Heuwelkruin vang van kindsbeen af saam met haar pa vis en het ongeveer twee jaar gelede kompeterend aan oewerhengel begin deelneem.
Haar passie is duidelik in haar prestasies nadat sy tydens die Desembervakansie as die Suid-Afrikaanse junior oewerhengelkampioen aangewys is. Tydens die kampioenskappe wat by die Bloemhofdam gehou is, verwerf sy nie net dié groot toekenning nie, maar word sy ook beloon vir die swaarte sak vis, die meeste vis, die grootste graskarp en grootste karp wat sy uit die water getrek het.
Sy is deel van Labeo Hengelklub in die stad en het in 2018 met die trofee as beste junior hengelaar in Limpopo weggestap. Sy is ook deel van die Limpopospan wat algeheel derde in die Suid-Afrikaanse kampioenskappe eindig en verwerf ‘n algehele sesde plek op die nasionale rangleer. Sy word ook vir die Suid-Afrikaanse Varswater Oewerhengel Federasie (Savof) se Jonge Dames proewe genooi.
Verlede jaar het sy op haar prestasies voortgebou en maak deel van die Limpopospan uit wat as wenners tydens die nasionale kampioenskappe aangewys word. Sy wen haar sone tydens dieselfde kampioenskappe vir drie dae in ‘n ry, sy eindig eerste met haar individuele prestasies, word weer eens vir Savof se Jonge Dames-proewe sowel as Savof se nasionale seunsproewe genooi.
“Ek glo nie aan geluk langs die dam nie; daar is baie aspekte wat in ag geneem moet word wanneer jy visvang – van die weer tot die kleur van die water en spesifieke dam waar jy vang,” meen Danae.
Danae het altyd sosiaal as deel van die plaaslike klub gehengel, maar het twee gelede dié sport ernstig begin opneem en haar eie verwagtinge jaar na jaar oortref.
“Die lekkerste van hengel is om te sukkel om vis te vang. Dan begin die tegniese deel deur alle elemente in ag te neem en aanpassings tot die aas te maak totdat die vis begin byt. Jy moet konstant dink aan nuwe kombinasies vir aas en dit probeer totdat hy iets kry wat die visse lok,” sê sy.
Afhangende van die dam, die weer en die kleur van die water, vang Danae met ‘floaties’ of mieliepitte wat in ‘n verskeidenheid geurmiddels gedoop word voordat sy dit in die dam slinger.
Volgens haar is karp lief vir ‘floaties,’ maar wanneer sy baber vang gebruik sy graag rysmiere of klein vissies aan die hoek.
Haar raad aan vissermanne is om meer fluoried te gebruik in vuil of donkerkleurige water. Wanneer dit warm is gebruik geurmiddels met ‘n vrugte geur en skerper geure soos kaneel op koue dae.
Danae droom groot en wil graag haar Protea kleure in oewerhengel verwerf. Om dit te bereik moet sy vir drie jaar tot die Savof-span verkies word.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]