full screen background image

Uitdagende jaar vir Limpopo polisie

540

Die provinsiale polisiekommissaris, Fannie Masemola het verlede Donderdag tydens ‘n perskonferensie saam met die LUR vir vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling, Mapula Mokaba-Phukwana meer duidelikheid oor misdaad in die provinsie verskaf.
Masemola het bevestig dat dit ‘n uitdagende jaar vir Limpopo se polisie was. “Protesaksies regoor die provinsie het ‘n groot invloed gehad. Ons het soms alle hulpbronne moontlik gebruik om protesaksies onder beheer te bring. In sommige gevalle is die hulpbronne wat vir misdaadvoorkoming gebruik word, ook na protes-aksies ontplooi,” het hy verduidelik.
“Ons het ‘n dringende kopskuif nodig om die belangrikheid van elkeen se betrokkenheid om ‘n verskil te maak, te besef. Die provinsie het nie goed presteer nie, maar sommige statistiek toon dat die polisie darem iets doen om misdaad te beveg. Stasies in Musina, Groblersdal en Phalaborwa het puik presteer,” het Mokaba-Phukwana gesê.
Statistiek
Aangepaste statistiek toon dat 36,6% minder voorvalle van motordiefstal en 38,5% minder voorvalle van diefstal by die Polokwane Polisiestasie aangemeld is.
Westenburg polisiestasie het ook byna 40% afname in motordiefstal, maar ‘n skokkende 181,8% styging in veediefstal aangeteken. Seshego en Mankweng het ook stygings in motor- en veediefstal van 20,8% en 46,9%, en 40,5% en 35% onderskeidelik getoon.
Thohoyandou misdaad-gevaarpunt
In byna alle misdaadkategorieë word Thohoyandou as gevaarpunt uitgewys en onder meer aan hoë getalle aanrandings met die doel om ernstig te beseer, algemene aanrandings, rooftogte met verswarende omstandighede, huisrooftogte, besigheidsrowe, huisbraak, diefstal vanuit voertuie, brandstigting, saakbeskadiging en dronkbestuur gekenmerk.
Masemola sê rooftogte by kleiner en informele winkels is die grootste bydraende faktor tot Thohoyandou se misdaadsyfer. Hy het na Bela-Bela as die gevaarpunt verwys wanneer dit by dwelmverwante misdade kom met ‘n 22% styging.
Onluste
‘n Duidelike styging in voorvalle van onluste is sedert die 2009/10 finansiële jaar getoon met slegs 52 sake wat per finansiële jaar gestyg het na 85, 41, 93, 135 en uiteindelik 206 voorvalle vir 2014/15.
Die syfer vir vanjaar word toegeskryf aan die onlangse onluste in Vuwani en die Malamulele-omgewing.
Misdaadvoorkoming
Masemola sê die polisie probeer alles in hul vermoë en tot hul beskikking om misdaad te bekamp.
“Slegs 36 nuwe lede is vir die volgende finansiële jaar vir Limpopo toegeken wat opgelei moet word. Dit neem ongeveer twee jaar om opleiding te voltooi en ons het reeds ‘n versoek aan die nasionale polisie gerig om meer lede vir die provinsie te allokeer.” Hy het gesê planne is reeds in plek en sommige bestuursvlakke is reeds opgeskerp in ‘n poging om misdaadvoorkoming te verbeter.
“Ons gaan ook aanhou met gereelde operasies om oortreders vas te trek. Wat veediefstal betref, maan ons mense om hul vee te brandmerk as bewys dat hulle die regmatige eienaars is. Kontakmisdaad is ook kommerwekkend omdat dit meestal alkoholverwant is. Ons pleit dat die gemeenskap hul vertroue in die polisie plaas en nie met straatgeregtigheid betrokke raak nie.”

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]

Photo: Provinsiale polisiekommissaris, Fannie Masemola.