full screen background image

Twee dood na taxi-jaagtog

329

‘n Gru-toneel het hom Maandag­oggend by die verkeerslig van die Roodepoortpad-kruising op die N1-suid afgespeel nadat ‘n taxi teen ‘n vragmotor gebots het.
Twee mense, die bestuurder en ‘n passasier, het gesterf.
Volgens beamptes van Polokwane Munisipaliteit se verkeersdepartement wat op die toneel was, het die taxi vermoedelik van sogenaamde ‘taxi monitors’, wat hulself die Boko Haram noem en geld by taxi’s eis, weggejaag.
Die beamptes het bygevoeg dat twee voertuie met Gauteng-registrasienommers agter die taxi aangejaag het.
Die taxi was onderweg in ‘n suidelike rigting op die N1, terwyl die vragmotor op die Roodepoortpad in ‘n westelike rigting op pad was.
Volgens ‘n ooggetuie was die verkeerslig vir die taxi groen, maar die vragmotor was nog besig om in die kruising in te draai. Die taxi het teen die vragmotor gebots en die agtervolgers het weggejaag.
Die vrou het vertel dat ‘n baba tydens die impak uit die taxi ge­slinger is.
Volgens noodreddingswerkers moes lewenskake gebruik word om die bestuurder van die taxi uit te sny.
‘n Onbekende aantal beseerde passasiers en ‘n baba wat in ‘n kritiese toestand was, is na die Polo­kwane Provinsiale Hospitaal geneem.
Westenburg polisiewoordvoerder, Mohlaka Mashiane, het bevestig dat die bestuurder van die taxi en ‘n passasier op die toneel dood is en dat hulle name nog nie bekend gemaak kan word nie.

Storie: LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>[email protected]

Hooffoto: Die taxi waarvan die bestuurder en ‘n passasier oorlede is.

Foto’s geneem deur: Leandri van Schalkwyk

Die gru-toneel wat motoriste Maandagoggend op die N1-suid begroet het.

Die gru-toneel wat motoriste Maandagoggend op die N1-suid begroet het.