full screen background image

Titelwelslae vir al drie Noordelikes-spanne

617

Na afloop van die naweek se finale wedstryde van die Boet Fick-liga, kan BB Truck Noordelikes met trots ‘n aantekening in die geskiedenisboeke maak nadat al drie hul spanne vir die eerste keer as wenners uit die stryd getree het.
Klubrugby-ondersteuners het Saterdag vasgenael op Louis Trichardt Rugbyklub se pawiljoen gesit om nie ‘n oomblik van die finale wedstrydaksie te mis nie.
Noordelikes het hul stemme dik gemaak en het telkens hul opponente in taai twee-stryde getroef.
Die eerstespan het Louis Trichardt met 22-14 geklop terwyl die tweede- en derdespan teen Letaba Rugbyklub met onderskeidelik 20-16 en 21-15 geseëvier het.
Die eerstespan se hoofafrigter, Frederik Romijn sê die spelers het sedert die begin van die liga uitnemend presteer.
“Ons het nie ons sterkste span op die veld gehad nie en Louis Trichardt het ons ‘n harde tyd gegee, maar ons het nie teruggestaan nie. Noordelikes se harde werk en oefening regdeur die seisoen het hul sege verseker,” sê hy.
Evan van Niekerk het met ‘n doel- en strafskop geslaag terwyl Johan de Beer sy eie drie verdoel het. Wouter de Villiers en Theyman Jongbloed het ook elkeen ‘n keer agter die pale gaan kuier.
Romijn praat met lof van die kameraadskap tussen die eerstespanspelers.
“Ons oefen drie maal per week. Die spe-lers raak moeg, maar hulle motiveer mekaar en bou aan die spangees. Hierdie is definitief die span met die beste spangees in Limpopo,” sê hy.
Benewens die span se Boet Fick-oorwinning, staan hulle ook ‘n goeie kans om vir volgende jaar se Cell C Community Cup te kwalifiseer.
“Die span sal binne ‘n paar weke teen die wenners van die Waterberg-liga uitspeel om te bepaal watter span aan die Community Cup gaan deelneem.”
Tweedespan-afrigter, Lieb Coetzer erken hulle het ‘n moeilike wedstryd teen Letaba gehad en dat Noordelikes baie foute gemaak het.
“Teen rustyd het Letaba met 11-7 voorgeloop. Ons het hard met die manne gepraat en hul tegniek en spelpatroon in die tweede helfte opgeskerp.”
Mighael Soekoe en Jean-Pierre Vermeulen het elk ‘n drie gedruk wat deur Eben Verster verdoel is. Verster en Vermeulen het ook elk ‘n strafskop oorgeklits.
Die tweedespan het slegs een wedstryd teen Dendron tydens die liga verloor.
“Ons het ‘n goeie ba-lans van ouer en jong spelers wat saam ‘n goeie kombinasie is om te wen en die spel terselfdertyd te geniet,” sê Coetzer.
Vir die derdespan was hul finale wedstryd in die liga baie emosioneel, omdat binnesen-ter, Barend Jacobsz vir eers sy rugbytrui moet ophang nadat hy met limfklierkanker gediagnoseer is.
“Dit was ‘n uitdagende wedstryd, maar ek het elke oomblik daarvan geniet. Ek is nie seker wat die toekoms inhou nie, maar vir nou is rugby uit,” sê Jacobsz.
Derdespan-afrigter, Hendrik van Jaarsveld sê dit was ‘n senutergende finaal, maar hy is trots op die span se welslae.
“Die eerste helfte was naelbyt omdat ons teen halftyd met slegs een punt voorgeloop het. Tydens die tweede helfte het die span se fiksheid en stamina vrugte afgewerp en hulle kon die knoop deurhak.”

RC Myburgh
>>[email protected]