full screen background image

Talentvolle Maryke lewe dansdrome voluit elke dag

770

Die dag toe danstalent uitgedeel is, het Maryke Botha beslis voor in die ry gestaan.
Terwyl ander kleuters met vingerverf gespeel het, het hierdie dansinstrukteur haar eerste akrobatiese dansklasse op drie jaar bygewoon.
Vanjaar, meer as 20 jaar later, is sy op pad na die nasionale rondte van die Suid Afrikaanse Talentkampioenskappe (Satch) nadat sy in Maart aan die provinsiale uitdunne van hierdie kompetisie deelgeneem en uitstekend gevaar het.
Botha sê dat dit ‘n groot eer vir haar is om aan dié gesogte kompetisie, wat in Oktober in Midrand plaasvind, deel te neem. Daar sal sy twee klopdanssolo’s en een karakterklopdans uitvoer. Sy sal ook in die ope-klopdansafdeling ‘n solo lewer.
Sy is vasberade om ten minste een goue medalje huis toe te bring, maar ‘n silwer- of bronsmedalje sal ook vir haar ‘n plek in die Suid-Afrikaanse dansspan verseker.
Só sal sy haar land by die World Dance Championships kan verteenwoordig. Die tyd en bestemming van die wêreldkampioenskappe is nog nie bekend nie.
Nadat sy haar vir agt jaar lank toegespits het op akrobatiese danse, het Botha in 2002 by Nonnie de Lange Dansateljee aangesluit en ander danssoorte soos moderne dans, klopdans en hip-hop, begin beoefen.
Sy het in 2010 aan Hoërskool Pietersburg (PHS) gematrikuleer en dieselfde jaar ook as dansinstrukteur gekwalifiseer. Daarna het sy eers self dansklasse aangebied, maar later by De Lange aangesluit, waar sy vandag ‘n gesoute afrigter is.
Botha vertel dat sy in 2004 saam met ander dansers van Nonnie de Lange Dansateljee aan ‘n internasionale klopdanskompetisie in Hollywood deelgeneem het en as wêreld-klopdanskampioen in die afdeling 13 tot 15 jaar teruggekeer het. Sy was die jongste danser in die span en het toe al bewys dat sy vir die verhoog gebore is.
Botha wys die toekennings en medaljes wat sy oor die jare ingeryg het en vertel dat sy baie opgewonde oor haar danstoekoms is.
Sy sê wanneer sy ‘n stuk musiek hoor, begin sy ‘n dans wat daarby pas in haar kop choreografeer. Wanneer sy nie dans nie, kyk sy graag dansflieks en bring tyd saam met haar familie en vriende, haar ondersteunings-netwerk, deur.
Botha erken dat sy voor elke optrede op haar senuwees is, maar dat alles vergete is sodra sy op die verhoog is.
“Dans is my lewe. Ek kan nie beskryf hoe wonderlik die gevoel is wanneer ek op daardie verhoog klim en hoe bevredigend dit vir my is om te dans nie.”
Om daagliks met kinders te werk, is vir haar ‘n groot pluspunt.
“Baie van my studente het al gesê dat ek hulle inspireer en dat hulle graag in my voetspore wil volg. Dit sal wonderlik wees as ek hulle positief kan beïnvloed, maar hulle moet ook hul eie passie uitleef,” verduidelik sy.
“Ek sal graag in die toekoms in die buiteland wil dans en aan dansprogramme deelneem. As ek nie dans nie, wil ek graag au pair-werk doen.”

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>[email protected]