full screen background image

Suid-Afrikaners behoort angstig te wees oor skuld

668

“Sowat 86% van Suid-Afrikaners het verlede jaar geld geleen. Ons het miskien al gewoond geraak om ’n nasie van swak spaarders genoem te word, maar ’n onlangse verslag deur die Wêreldbank het ons die onbenydens­waardige reputasie as die grootste leners in die wêreld gegee.”
So sê finansiële adviseur van Fraser en Genote BlouSter Finansiële Adviesdienste, Wally Fraser, met die fokus op Julie as bespa­ringsmaand.
“Dit is tyd om te spaar en skuld so vinnig moontlik af te betaal. As ’n mens leen om ’n gekose leefstyl te befonds of jou skuld te delg, kan dit ’n bose kringloop raak wat uiteindelik in trauma en teleurstelling eindig,” sê Fraser.
Volgens Fraser raak mense se skuld op ‘n stadium so groot dat dit hul persoonlike en finansiële welstand begin beïnvloed. “Ongelukkig beteken dit vir die meeste dat hulle nog jare lank sal moet swoeg om hul skuld af te werk. Baie sal nog tot na hul aftrede die gevolge van hul hoë skuldvlakke dra.”
Die Wêreldbank se 2014 Global Findex-databasisverslag wys inderdaad hoe swak Suid-Afrika vaar wanneer van ons verwag word om binne ons vermoëns te leef; selfs al gaan baie Suid-Afrikaners geregverdigde lenings aan om kos op die tafel te sit en hul kinders te laat leer.
Sanlam se jongste Benchmark Survey oor aftrede het bevind dat 51% van alle persone wat op een of ander tyd hul spaargeld in kontant omgesit het, dit gebruik het om korttermynskuld soos kredietkaarte en persoonlike lenings af te betaal.
Wanneer hulle by aftrede kom, moet hierdie mense gewoonlik met ’n laer inkomste klaarkom en word hulle dikwels onkant gevang wanneer hulle die koste van byvoorbeeld mediese fondsdekking moet betaal.
“Die opname het getoon dat mediese onkoste pensioenarisse se derde grootste uitgawe gedurende aftrede is, naas kruideniersware en nutsrekeninge. Aangesien baie mense voor aftrede naarstiglik besig is om hul skuld af te werk, hou hulle nie hiermee rekening in hul finansiële beplanning nie. Daarom is die bevinding dat 45% van afgetredenes in werklikheid ’n tekort tussen hul maandelikse inkomste en uitgawes ondervind,” sê Fraser.
Die opname ondersteun ook die kommer oor die situasie omdat dit blyk dat die Suid-Afrikaanse jeug baie apaties oor spaar- en aftreeplanne is. Dit wys dat enkellopendes en mense sonder kinders geneig is om maklik geld te spandeer en graag geld op hulself uitgee as ‘n beloning vir harde werk.
Fraser sê die kommerwekkende aspek is dat hierdie mense nie gedink het dit is realisties om vir die toekoms te spaar nie en prontuit verklaar het dat hulle ’n sekere lewenstandaard moet handhaaf en hul geld nou wil hê.
“Dit beklemtoon die behoefte om die rol van finansiële advies aan Suid-Afrikaners te posisioneer ten einde persepsies oor skuld en die belangrikheid van spaar te verander,” sê Fraser.
Die volgende punte kan Jan Alleman help om te spaar:
Nuut op almal se lippe is Sanlam se belas­tingvrye spaarproduk
Belê in Effekte Trusts
Maak ‘n spaarrekening by enige bank oop en maak gereelde deposito’s
Kry ‘n uittree-annuïteit wat jou dwing om geld weg te sit
Betaal so gou moontlik jou korttermyn skuld om ekstra te kan spaar

RC Myburgh
>>[email protected]