full screen background image

Skokkende misdaadsyfers vir Polokwane

705

Skokkende en verwarrende feite het aan die lig gekom tydens Dinsdag se bekendmaking van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se 2014/15 misdaadstatistiek wat ‘n drastiese styging van 233,3% in sake van die besit van onwettige vuurwapens of ammunisie by die Polokwane Polisiestasie getoon het, maar geen motor- of motorfietsdiefstal of veediefstal aangeteken is nie.
Daar is ook geen gevalle van veediefstal by die prominente buurstasies aangemeld nie, volgens die statistiek.
Dit terwyl Limpopo sesde op die nasionale lys van provinsies is met ‘n 6,3% styging.
Polokwane het ook ‘n 62,7% styging in sake van bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms getoon, 38% in rooftog met verswarende omstandighede, 36,5% in inbrake by nie-residensiële persele en 23,4% in dwelmverwante misdrywe.
Misdade wat ‘n afname by die Polokwane Polisiestasie getoon het sluit moord (-8,3%), totale seksuele misdrywe (-8,3%), poging tot moord (-38,5%), algemene aanranding (-4,2%), algemene rooftogte (-10,2%), brandstigting (-40%), diefstal vanuit voertuie (-3,3%), seksuele oortredings wat aangeteken is na polisie ondersoeke (-97%), kommersiële misdade (-8,1%), winkeldiefstal (-6,3%) en rooftogte by besighede (76,5%).
Westenburg Polisiestasie
Die Westenburg Polisiestasie is die enigste buurstasie wat ‘n styging (23,8%) in moordsake getoon het. Sedert die stasie in die 2012/13 finansiële jaar as onafhanklike stasie aangewys is, is 17, 21 en 26 moordsake onderskeidelik jaarliks aangemeld.
Die stasie het ook aansienlike stygings in verswarende rooftogte (29,9%), inbrake by nie-residensiële persele (46,2%), onwettige besit van vuurwapens en ammunisie (40%), dwelmverwante misdade (41,5%) en kommersiële misdade (28,4%).
Seshego Polisiestasie
Brandstigting het in Seshego met 171,4% die hoogte ingeskiet wat gepaard gaan met saakbeskadiging wat 10,7% hoër is. Dwelmverwante misdade en bestuur onder die invloed van alkohol of dwelms is ook hoër met 29,7% en 26% onderskeidelik.
Poging tot moord is op met 25% terwyl ‘n 5,9% afname in moordsake gerapporteer is. Diefstal in die omgewing is op met 40,6%.
Ook hier is geen motor- of motorfietsdiefstal of veediefstal aangeteken nie.
Mankweng Polisiestasie
In Mankweng is 65 dronkbestuursake meer as die vorige finansiële jaar aangemeld wat ‘n 209,7% styging toon. Tweede hoogste op die stasie se lys is poging tot moord (65,6%) gevolg deur huisroof (65,1%). Algemene diefstalsake is 47,7% of 241 meer sake aangemeld as die vorige jaar. Soos in die res van Limpopo is geen motor- of motorfietsdiefstal of veediefstal in die statistieke opgeneem nie.
Moordsake is slegs twee minder as die vorige jaar terwyl 61 minder sake van inbrake by nie-residensiële persele aangemeld is.
Lebowakgomo Polisiestasie
Lebowakgomo Polisiestasie is die buurstasie wat ‘n styging in die meeste misdrywe op die lys van sake toon. Sestien uit die 25 misdrywe wat gelys word se syfers is hoër as die vorige jaar. Ten spyte van dié statistieke is Lebowakgomo ook die stasie met die grootste afname in moordsake op -40,6%.
Die stasie het ook aansienlik meer sake (162,9%) van dronkbestuur aangeteken gevolg deur 50% meer sake van huisroof en huisbraak op 48,9%.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]