full screen background image
Pedrie Janse van Rensburg met sy Limpopo­baadjie.

Skaakvernuf in jong Pedrie se bloed

815

Skaak hou mens se brein wakker en help jou beslis om beter op aka­demiese vlak te presteer, glo graad 4-leerder van Laerskool Pietersburg, Pedrie Janse van Rensburg wat sopas teruggekeer het van die Suid-Afrikaanse Interstreek Skaakkampioenskappe wat verlede week in Ekurhuleni gehou is.
‘n Totaal van 2 249 spelers van o.8 tot o.20 het vanuit al die streke van die land byeengekom en die Capricorndistrik is vergesel van 10 spanbestuurders en twee afrigters. Die Limpopospan het in die A-, B- en C-afdelings deelgeneem en ‘n derde plek in die B-afdeling verwerf.
Pedrie is nou saam met die ander 88 skaakspelers van Capricorn District Chess die trotse draers van Limpopokleure en is die resultaat van die harde werk van hul afrigters Frans en Jeanie Badenhorst.
Pedrie is verlede jaar as Laerskool Pie­tersburg se Junior Skaakspeler van die Jaar aangewys nadat hy reeds vanaf graad 1 vir die o.10-span gespeel het.
Hy speel nie net skaak nie, maar was verlede jaar lid van die skool se 0.9-rugby- en krieketspanne en neem ook buite skoolverband aan stoei en tennis deel. Akademie bly ook nie agter nie en hy het verlede jaar sy silwerbalkie verwerf vir ‘n algemene persentasie bo 80% met ‘n gemid­deld van bo 90% vir sy gunstelingvak, Wiskunde.
Sy pa Adriaan is ‘n kommersiële vlieënier en sy ma, Cirienne ‘n onderwyseres.
Wanneer hulle nie by al Pedrie se afsprake kan uitkom nie, help oupa en ouma Fred en Adrienne de Wit graag met die rondrywerk en is sy sterkste ondersteuners.
Pedrie speel elke dag van die week ‘n potjie of twee skaak en erken dat hy middae sy huiswerk afjaag om tyd te laat vir skaakspeel teen sy rekenaar.
“Dit is lekker om te wen, maar mens moet verloor ook want elke keer as ek verloor, leer ek iets. Ek speel graag teen ‘n opponent wat beter as ek is want dan is die uitdaging groter.
Volgens Pedrie is geduld en fyn beplanning belangrik vir ‘n goeie skaakspeler.
Hy konsentreer egter daarop om eers sy stukke te beveilig voordat hy tot die aanval oorgaan.
“Jou opponent se skuiwe bepaal natuurlik ook jou spelpartoon en jy moet die vermoë hê om situasies op te som en vinnig planne te maak,” glo hy.

Storie en foto: BARRY VILJOEN
>>[email protected]