full screen background image

Potspel haar eerste liefde

646

Sy is net 15 jaar oud, maar daar is geen keer aan Nikhita Mahne wanneer sy ‘n potspelstok in die hand het nie.
Nikhita het in Junie haar provinsiale kleure in potspel verwerf en is gekies om aan die begin van Julie aan die Suid-Afrikaanse Junior Potspel Kampioenskappe in Bloemfontein deel te neem.
Vir haar en die klub waarvan sy ‘n lid is, Blackball Pool, is dit ‘n groot prestasie omdat sy die eerste junior meisie van die klub is wat nog ooit gekies is om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem.
“Dit was baie senutergend. Ek het nie geweet wat om te verwag nie en van die spanne speel uitnemend. Ons het teen 14 ander spanne van regoor die land gekompeteer en ek het dit baie geniet. Dit was ‘n unieke geleentheid en goeie motivering om nog beter te presteer,” sê Nikhita, ‘n graad 9-leerder aan Hoërskool Pietersburg (PHS)
Sy sê sy elke pot word met ‘n ander stra-tegie beplan, afhangend van jou opponent se vaardighede.
“Jy moet leer om perfek en met presisie te korrel, selfvertroue te hê en altyd gemotiveerd bly,” sê Nikhita oor die belangrikste eienskappe van ‘n goeie potspelspeler.
Haar doelwit is om die topspeler in die provinsie te wees en ‘n plek in die nasionale span te behaal. Daarvoor oefen sy baie hard.
Nikhita is verder ‘n kranige netbal- en krieketspeler en sing ook in PHS se meisieskoor.
“As ek nie potspel speel nie beoefen ek my stokperdjies wat motorfietsry, visvang en jag insluit,” sê die alsydige tiener wat na skool landbouwetenskap wil studeer asook haar professionele jagtersdiploma wil voltooi.

RC Myburgh
>>[email protected]