full screen background image

Polisie gereed vir moontlike studenteprotes

384

South African Student Congress Organisation (Sasco) se provinsiale voorsitter, Thembani Nsisinyane het teen druktyd gesê dat ‘n vreedsame protesaksie by die Universiteit van Limpopo se Turfloopkampus gister (Woensdag) sou plaasvind waarin ‘n memorandum aan die bestuur oorhandig sou word wat plaaslike studente se griewe oor die moontlike verho­ging in klasgelde sou aanspreek.
Gister (Woensdag) is berig dat 14 tersiêre instellings in sewe provinsies al geraak is en dat meeste se klasse tydelik gestaak is.
Gewelddadige betogings van studente het Dinsdag in die Wes-Kaap uitgebreek en na ander kampusse onder die vaandel #FeesMustFall versprei. Die studente is ongelukkig oor die verwagte 6% verhoging in klasgeld vir 2016. Klasse by die Universiteit van die Witwatersrand is tot Maandag opgeskort en die Universiteit van Pretoria se kampus was gister (Woensdag) gesluit. Betogers het voor Tuks se administratiewe geboue bymekaargekom voordat hul protesaksie begin het.
Die polisie het Dinsdag opgetree toe studente geboue by die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad beset het.
Die Universiteit van Stellenbosch het vroeër vandeesweek ‘n hofbevel bekom om betogende studente uit een van die administratiewe geboue te verwyder en verskeie arrestasies is gemaak. Die protes duur voort.
By die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit is studente gister (Woensdag) met rubberkoeëls en traangas uiteengejaag nadat hul protes gewelddadig geraak het.
By die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het oproeriges gedreig om die beroemde Totiusstandbeeld om te gooi en is in hul spore gestuit deur medestudente wat die standbeeld deur middel van ‘n menseskild beskerm het. Intussen het die Congress of South African Students (Cosas) ook bekendgemaak dat hulle die beroep om gratis onderrig onder­steun en sou na verwagting gister (Woensdag) na die departement van hoër onderwys in Pretoria opgeruk het.
Die onrus kan moontlik na Limpopo oorspoel, maar die polisie sê hulle is slaggereed indien dit sou plaasvind.
“Daar is nog geen voorvalle van betogings by universiteite aangemeld nie, maar die polisie is gereed om in te gryp. Ons sal geen onwettige en gewelddadige protesaksie duld nie en dié wat hulle daaraan skuldig maak, sal voor stok gebring word,” sê provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto oor die situasie in Limpopo.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]