full screen background image

Plaaslike skole vaar goed by rugbyfees

936

Die tweede ronde van die jaarlikse Kia Bosveld Rugbyfees is verlede Woensdag op Hoërskool Pietersburg (PHS) se veld aangebied en van die plaaslike skole het hul goed van hul taak gekwyt.
Die fees word vanjaar vir die vyfde keer in samewerking met Kia Polokwane aangebied en die finaal is gister (Woensdag) gespeel. Die finale uitslae was teen druktyd nog nie beskikbaar nie. Tydens verlede week se kragmeting het Pietersburg Laerskool vir Laerskool Pietersburg-Noord Primary met 12-5 getroef en Laerskool Pietersburg-Oos het PLS se voorbeeld gevolg en vir Laerskool Krugerpark met 17-0 ore aansit.
Die gekombineerde Rangers-span moes met ‘n 14-60 loesing teen Hoërskool Nylstroom tevrede wees terwyl Hoër Tegniese Skool Tom Naudé ook nie die mas teen Hoërskool Frans du Toit met ‘n eindtelling van 19-22 kon opkom nie.
PHS se Barbarianspan het hard gewerk om Hoërskool Frikkie Meyer te klop, maar die twee spanne wou nie bes gee nie en het 12 elk gelykop gespeel.
Hoërskool Hans Strijdom het tydens die voorlaaste wedstryd van die dag vir Hoërskool Merensky met 29-24 laat les opsê.
PHS het vir Hoërskool Louis Trichardt ‘n harde tyd op die veld gegee en met ‘n agressiewe spelpatroon 58 punte bymekaar gemaak terwyl die Triegies geen punte kon aanteken nie.
Die spelers van die wedstryd van elke wenspan was Tiaan van den Heever (PLS), Dirco van Tonder (Oosskool), Daniël Letsebe (Nylstroom), Zerwick Victor (Frans du Toit), CJ van der Merwe (Frikkie Meyer), Ruben Brown (Hans Strijdom) en Jan-Barend Meyer (PHS).

RC Myburgh
>>[email protected]

Foto’s: Herbert Rachuene Ruan Erasmus van PHS se Barbarianspan kuier agter die pale.

Foto’s: Herbert Rachuene
Ruan Erasmus van PHS se Barbarianspan kuier agter die pale.