full screen background image

PHS opedag lok vele potensiële Pieties

381

Nuuskierige graad 7-leerders het verlede Donderdag by Hoërskool Pietersburg (PHS) ingeloer om eerstehands ‘n voorsmakie te kry van wat op hulle as potensiële leerders van dié spogskool wag.
Voornemende Pieties het saam met hulle ouers en vriende op ‘n toer deur die skool, begelei deur lede van die Verteenwoordigende Leerderraad (VLR), gegaan om te sien wat die skool hul bied.
Om elke hoek en draai is die skool se akademiese-, kultuur-, sportaktiwiteite en prestasies uitgebeeld. ‘n Ponie saam met die perderuiters, fietsryers wat PHS se terrein in ‘n fietsbaan verander het, leerders wat by die Eiffeltoring danspassies uitgevoer het asook lede van die spanredenaars en debatspan wat met hul gladde monde gespog het, het die laerskoolleerders en ander besoekers verstom en vermaak.
Skaakspelers wat mekaar die stryd aangesê het, krieket- en netbalspelers wat hul slag met die bal gewys het, fisiese wetenskapleerders wat eksperimente uitgevoer het en gasvryheidstudieleerders wat hulle talente in die kombuis ten toon gestel het, het die graad 7’s meegevoer.
Na die inligtingstoer het gaste na die skoolsaal beweeg waar hulle meer oor PHS se ryk tradisies geleer het.
‘n Video oor al PHS se prestasies en die lewe van ‘n Pietie het die toekomstige hoërskoolleerders gehelp om oor hul toekoms te besluit.
Die besoekers het na die opedag opgewonde vertel dat hulle nie kan wag om Pieties te wees nie en dat hulle uitsien om deel van ‘n skool soos PHS te wees.
Anna-Marié Schoeman, skakelbeampte van PHS sê dat hulle baie tevrede met die opkoms is, dat die terugvoer positief was en dat die skool ‘n wenresep beet het waarop hulle voortbou.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>[email protected]