full screen background image

PHS-hoof neem mentorskap van Tommies

794

RC Myburgh
>>[email protected]

Die departement van onderwys het Hoërskool Pietersburg (PHS) se hoof, Willie Schoeman as mentor van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé aangewys nadat Tommies se waarnemende hoof, Cois Armer aangedui het dat hy van volgende kwartaal af nie meer vir die pos beskikbaar is nie.
Armer sê na 41 jaar in die onderwys is dit tyd om af te tree en die leisels aan adjunkhoof, Piet Holtzhausen oor te gee.
“Ek tree eers aan die einde van die jaar af, maar Holtzhausen sal van volgende kwartaal as hoof waarneem onder die mentorskap van Schoeman,” sê Armer, wat sedert 2013 as Tommie-hoof waarneem.
Schoeman sê dit is ‘n groot taak wat voorlê. “My plig sal wees om toe te sien dat strukture en sisteme om die skool se sukses te verseker, in plek is. Nie net sal negatiewe aspekte aangespreek word nie, maar ook maniere om goeie aspekte te verbeter,” sê Schoeman.
Schoeman het reeds met die beheerliggaam vergader. “Ek sal in die toekoms weer vergader asook met onderwysers en leerders om uitdagings te identifiseer. My volgende vergadering sal met Holtzhausen wees en ek sal die skool op gereelde basis besoek,” sê Schoeman.
Schoeman sê Tom Naudé se akademie sal eerste aangespreek word. Leerders met gedragsprobleme of gebrek aan dissipline sal ook voor stok gekry word.
“Leerders moet weet hoe mense buite die skool hulle sien en wat van hulle gedink word. Leerders wat Tommies se beeld nie positief na buite dra nie, sal vasgevat word,” sê Schoeman.