full screen background image

PHS bied Tritech vir graad 10’s aan

1214

BARRY VILJOEN

Hoërskool Pietersburg se jong wetenskaplikes het onlangs hul staal tydens ‘n Tritech Wetenskapekspo vir graad 10’s gewys.
Die Tritech Wetenskapekspo is ‘n lands-wye kompetisie waar leerders met praktiese wetenskapstake teen mekaar meeding. Tritech het ten doel om jong wetenskaplikes te motiveer om krities te dink, uitdagings en behoeftes te identifiseer, inligting te analiseer en oplossings deur middel van tegnologie te vind. Dit poog ook om die waarde van wetenskap te verhoog en jong wetenskaplikes se horisonne te verbreed.
Sodoende word leerders vir tersiëre onderrig voorberei, om hulle aan te moedig om navorsing te doen en moderne tegnologie te bevorder.
Alle take wat vir dié kompetisie ingeskryf word, moet ‘n positiewe impak op gemeenskapsvlak kan maak.
Projekte oor malaria, plantegroei met honde-afval as bemesting, ‘n plant in ‘n sak en ‘n uitvinding wat as ‘Sillyband’ bekendstaan, is saam met navorsingstukke oor die rol van tegnologie uitgestal en deur leerkrag, Marietjie Wolmarans en eksterne beoordelaar, Hill van Schalkwyk beoordeel.
Hulle is bygestaan deur leerders wat voorheen aan die nasionale Tritech-kompetisie deelgeneem het.
Laura Pieterse, wetenskap-departements-hoof sê dat al PHS se graad 10-leerders wat wetenskap as vak neem, jaarliks ‘n weten-skaplike navorsingstaak indien as deel van die skool se Tritech-deelname.
Die take word dan beoordeel en die bestes dring tot die streekronde deur, waarna die volgende groep wenners aan die nasionale ronde, wat gedurende Augustus by Hoërskool Merensky plaasvind, sal deelneem.
“PHS vaar elke jaar uitsonderlik goed in hierdie kompetisie en het selfs een jaar die beste nasionale projek opgelewer. Met die uitsonderlike talent van ons leerders, glo ons dat ons hierdie jaar weer uitstekend sal vaar,” sê Pieterse.

Suné Bacher verduidelik hoe honde-afval prakties aangewend kan word.

Suné Bacher verduidelik hoe honde-afval prakties aangewend kan word.

Plant in ‘n Sak, is die naam van Henlou Hurter en Pieter Jordaan se projek.

Plant in ‘n Sak, is die naam van Henlou Hurter en Pieter Jordaan se projek.