full screen background image

Patel, Carr verskyn later vanjaar weer in hof

391

Twee afsonderlike sake van moord op Fatima Patel en Justin de Freitas wat opslae in die plaaslike gemeenskap gemaak het, het Dinsdag en verlede Vrydag onderskeidelik weer in die Polokwane Landdroshof voorgekom.
Rameez Patel wat op die beweerde moord van sy vrou, Fatima in April aangekla word, sal na verwagting weer op 2 Desember in verband met dié saak verskyn nadat die saak Dinsdag vir verdere ondersoek uitgestel is.
Hy is in Junie op R250 000 borgtog vrygelaat.
Patel, wat onder voorwaardes vrygelaat is om daagliks by die Westenburg polisiestasie aan te meld, is einde Junie weer tydens een so ‘n aanmelding in hegtenis geneem en staar ‘n tweede klag van moord op Tony Adams in die gesig.
Adams se lyk is in 2013 in ‘n parkeerarea in die stad gevind. Sy dood is oorspronklik aan straatgeregtigheid toegeskryf en Patel se broer het glo in verband met die saak in die hof verskyn, maar die saak is later van die rol geskrap.
Patel sal na verwagting Maandag weer in die hof in verband met Adams se moord verskyn.
Paul Carr wat daarvan verdink word dat hy Justin de Freitas in Julie by Soetdoring Buiteklub met ‘n mes doodgesteek het, het Vrydag in die Polokwane Landdroshof verskyn waarna die saak tot 18 November uitgestel is.
De Freitas is dood nadat ‘n argument glo tussen hom en Carr tydens ‘n motorfietssaamtrek uitgebreek het.
Carr het die naweek van die voorval in die selle spandeer en die Maandag in die hof verskyn, maar is borgtog geweier. Hy is drie dae later op R1 500 borgtog vrygelaat.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]

Foto: Fatima Patel