full screen background image

Ooggetuie vertel van helikopterongeluk wat twee eis

479

“Ek het gesien dit lyk of die helikopter tegniese probleme ondervind, maar toe lyk alles daarna weer in orde. Die volgende oomblik het die helikopter ‘n ent agter my vragmotor teen ‘n paal en elektriese drade geduik.”
So vertel Willem Lochner wat nie net verlede week se helikopterongeluk sowat 100 km noordwes van Polokwane aanskou het nie, maar die derde insittende se lewe gered het. Die twee passasiers was werknemers van Sentech.
Lochner en sy kollega, Jacob Maphoto was eerste op die toneel naby die Blouberg Medical Centre in Senwabarwana waar die Henley Air-helikopter neergestort en die lewe van vlieënier, David Boul en passa­sier, Ronald Matsunga geëis het.
“Die inligting wat die polisie gegee het dat die tweede passasier, Phineas Sekwale uit die helikopter geval of gespring het voordat dit neergestort het, is nie waar nie. Toe die helikopter die grond tref, is Sekwale uitgeslinger en het langs die wrak te lande gekom,” sê Lochner wat sake in die omgewing gedoen het.
Hy en Maphoto het dadelik na die wrak wat reeds in vlamme gehul was, gehardloop en Sekwale van die wrak af weggesleep en onder ‘n nabygeleë boom laat lê.
“Ons het sand op sy regterbeen gegooi om die vlamme te blus,” sê Lochner. Hy voeg by dat daar geen teken van lewe by die ander twee insittendes was wat verkool het.
Lochner sê die skok het hom en Maphoto ongeveer ’n halfuur nadat hulle die toneel verlaat het, getref.
“Ons het net begin huil en toe eers besef wat gebeur het en hoe gelukkig ons was dat die helikopter nie op ons geval het nie. Ons was Dinsdag weer daar vir aflewerings en die toneel het soos ‘n rolprent voor ons afgespeel,” sê hy.
Mpho Maseku, korporatiewe kommunikasiebeampte van Sentech, sê Sekwale sterk tans tuis aan nadat hy ontslaan is. Sy kon nie verdere inligting oor die saak bekendmaak nie.
Die burgelugvaartowerheid is tans besig met ’n ondersoek om die oorsaak van die ongeluk vas te stel.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]

Foto: Aan die voorkant van die wrak is duidelike sleepmerke wat wys hoe Willem Lochner en Jacob Maphoto die oorlewende van verlede week se helikopterongeluk in Senwabarwana van die brandende helikopter verwyder het.