full screen background image

Nico Hurter jubel oor nuwe nier na ses jaar se wag

1014

“Die eerste dag van die res van my lewe het op 8 September 2015 aangebreek toe ek met my nuwe nier uit die hospitaal ontslaan is.”
Nico Hurter (57) se mediese geskiedenis en verhaal van hoop, vasbyt en geloof strek sewentien jaar terug toe hy die skokdiagnose gekry het dat hy polisistiese niersiekte (PKD) van sy ma geërf het.
Dit behels dat watersiste op die niere vorm wat mettertyd so vergroot dat dit letterlik die organe kan dooddruk. Die siste wat tot finale nierversaking lei, bars ook voortdurend en ontsteek.
Hurter, ‘n voormalige prokureur van die stad se nierfunksies het stelselmatig verswak totdat albei sy niere ingegee het en hy aan die einde van 2009 met dialise begin het.
“Met dialise word jou leefwêreld so groot soos die dialisemasjien. Maandae, Woensdae en Vrydae het ek vier uur per dag, 52 weke van die jaar vir ses jaar gedialiseer. Die impak van die dialise is soortge­lyk aan ‘n 42,2 km marathon wat jy draf. Ek was so moeg daarna dat ek die res van die dag net geslaap het.”
Sowat 96? bloed het per keer (vier uur) uit Hurter se liggaam en terug deur ‘n dialisemasjien met filters en ‘n oplossing gesirkuleer om sy bloed skoon te maak, maar dit is net gelykstaande aan ‘n skrale 5% van die funksie wat ‘n gesonde nier kan verrig. Dit hou die pasiënt dus net aan die gang tot die volgende dialise en gifstowwe bou voortdurend op.
In ‘n gesonde persoon met twee niere sirkuleer
1 728? bloed in 24 uur deur jou liggaam om van afvalstowwe ontslae te raak en ensieme en hormone te vervaardig wat noodsaaklik is vir normale bloeddruk en die vervaardiging van rooibloedselle en die samestelling van die liggaam se pH-balans.
Die enigste permanente langtermynuitweg was ‘n skenkernier. Van Hurter se vriende en familielede het aangebied om te skenk, maar was as gevolg van uiteenlopende mediese redes nie geskikte kandidate nie.
Nietemin het hy bly hoop dat hy ‘n skenkernier kan kry en besluit om ‘n vol lewe te probeer lei. Tussen die dialise het hy diepsee- en forelhengel gedoen, gejag, praktiese pistoolskiet en fietsry beoefen, ver ente met sy familie gestap en landwyd vakansie gehou waar dialisemasjiene beskikbaar was.
‘n Groot uitdaging was die streng dieet en geweldige daaglikse vogbeperking wat hy moes volhou. By tye kon hy slegs 500 ml vloeistof binne 24 uur inneem (wat die vog in sy kos insluit) omdat sy liggaan nie urine kon afskei nie.
“Dit voel of jy wil verdrink as daar so baie vog opbou. In sulke tye maak ‘n mens vrede met die feit dat jy agteruitgaan en sal sterf sonder om dalk ooit ‘n skenkernier te kry.”
Op 4 Junie vanjaar is sy een nier wat stelselmatig sy hart en longe doodgedruk het noodgedwonge tydens ‘n groot operasie verwyder. Dié polisistiese nier het ‘n massiewe
7 kg geweeg.
Daarna was Hurter en sy vrou, Elizabeth op Steytlerville in die Oos-Kaap met vakansie om haar verjaarsdag te vier toe hy die lewensveranderende oproep op 16 Augustus om 10:45 gekry het.
Lydia Botes, oorplantingskoördineerder van Pretoria het gesê: “Ons het vir jou ‘n skenkernier by die Netcare Jakaranda Hospitaal. Sorg dat jy nie later as 16:00 in die hospitaal is nie, want die nier van ‘n 17-jarige meisie is reeds op ys vir jou.”
Alle chaos het losgebars want die Hurters het slegs vyf uur gehad van Steytlerville na die lughawe in Port Elizabeth, 188 km verder in ‘n gehuurde Chevrolet Spark teen sowat
180 km/h op die snelweg, nuwe vliegkaar­tjies bespreek, die huurmotor teruggee, bagasie kry op OR Tambo en die jaagtog hospitaal toe.
Familie het vining ‘n netwerk gevorm en gehelp. Intussen is die lugdiens in Port Elizabeth geskakel wat onderneem het om vir die Hurters te wag. In Johannesburg het ‘n motor gereed gestaan vir die rit hospitaal toe.
“Presies om16:00 het ek by die hospitaal ingestap, maar my potassiumvlakke was te hoog vir die operasie. Ek is vir twee uur gedialiseer om die vlakke te verlaag en die aand om 20:30 teater toe vir die oorplanting. Die nuwe nier het ‘n week gesukkel om aan die gang te kom en eers op die agtste dag reg uitgeskei,” sê Hurter wat binne ‘n week 21 kg verloor het omdat die nuwe nier effektief van afvalstowwe ontslae geraak het.
Na drie weke en twee dae in die hospitaal is hy tuis in Polokwane, drink getrou die antiverwerpingsmedisyne, is op ‘n nóg strenger dieet sodat die nuwe nier se lewe nie verkort word nie en bly hoopvol.
“Ek het nou een siekte se probleem vir ‘n ander siekte se probleme verruil, maar die tweede siekte se lewenslas is aansienlik minder. Hoewel ek tans baie swak is en ‘n lae weerstand na twee groot operasies het, het ek ‘n toekoms en baie dankbaarheid in my hart. Die gemeenskap, ons predikant, Sarel Venter, medelidmate en vriende se onder­steuning dra ons. Opregte dank aan almal.”
Hurter beplan om die naweek te gaan skiet, elke dag ‘n entjie verder te stap en die ander polisistiese nier mettertyd te laat verwyder, maar sien uit na die toekoms saam met Elizabeth en sy twee dogters, Danelle en Jeanne, en voel al amper soos ‘n splinternuwe sikspens.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>[email protected]