full screen background image

Misdadigers loop hul rieme styf toe hulle kla by polisie

429

Twee verklikkers wat verlede Vrydag die polisie se hulp ingeroep het nadat hulle deur drie verdagtes in ‘n rooi Mercedes-Benz gekaap is, het toe self aan die verkeerde kant van die gereg beland.
Vyf verdagtes is in totaal in hegtenis geneem waarvan twee op aanklagte van vermoedelike besit van onwettige sigarette teregstaan terwyl die ander drie aanklagte van motorkaping, besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en nabootsing van ‘n polisiebeampte in die gesig staar.
Volgens Westenburg polisiewoordvoerder, Mohlaka Mashiane het die polisie ‘n oproep ontvang van twee mense in ‘n Mazda luikrug wat beweer het dat hulle deur drie mans in ‘n rooi Mercedes-Benz agtervolg word.
“Buite Polokwane het een van die insittendes in dié Mercedes-Benz ‘n polisie-identiteitskaart getoon waarna die Mazda stilgehou het. Die insittendes is glo met ‘n vuurwapen gedreig en hul voertuig deur twee van die verdagtes gekaap.”
Kort daarna het die polisie opgedaag en een verdagte in die Mercedes-Benz op die toneel gevind. Die Mazda is agternagesit en die ander twee is op die R101 vasgetrek.
“Die drie is gearresteer, maar by verdere ondersoek is die twee insittendes van die Mazda ook gearresteer nadat die polisie onwettige sigarette in die motor gevind het. Die klaers in die saak is toe self aangekla van misdrywe en die onwettige goedere kan moontlik die rede wees waarom hulle na bewering gekaap is,” sê Mashiane.
Al vyf betrokkenes het volgens Mashiane Dinsdag in die Polokwane Landdroshof verskyn, maar hy kon nie die uitkoms van hul eerste verskyning bevestig nie.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]