full screen background image

Manneaand met boerewors, biltong en Putter se waarhede

773

ERA Real Estate Polokwane en die AGS Taberna Dei-familie het Vrydag ? suksesvolle manneaand met biltong en boerewors gehou.
Die 250 mans het ontspanne buite op lusernbale gesit terwyl hul na Jannie Putter, spansielkundige van die Goue Leeus en motiveringspreker geluister het.
Putter het eers sy eie CV aan die mans voorgehou en toe verduidelik dat ‘n CV die mooi van ‘n mens se lewe bevat, maar nie alles insluit wat daardie mens is nie.
Hy het ? kragtige getuienis oor sy eie lewe gelewer. As suksesvolle rugbyspeler in ? provinsiale span is hy selfs vir die Springbokproewe in 1992 genooi.
Hy het ook oor sy ouers se egskeiding, sy ma se alkoholisme en sy woede gepraat en vertel hoe pornografie sy lewe in dié tyd so oorheers het dat dit byna sy huwelik verwoes het.
“Op ‘n dag het ek teësinnig saam met my vrou na ‘n prediker gaan luister, besef dat ek op die verkeerde pad was en my lewe omgekeer nadat ek tot bekering gekom het.”
Hy het die gehoor gemaan om nie bang te wees vir oordeel indien iets in hul lewens nie reg is nie, dat hul omstandighede nie uniek is nie en dat ander onder dieselfde versoekings gebuk gaan.
“Moet nie die geleentheid mis om ‘n wilsbesluit te neem en te verander nie, want daar is ‘n beter lewe. Die besluit om die Here te eer in julle huise, by die werk en in julle gemeenskappe moet eerste prioriteit wees, nie net in wat julle sê nie, maar in wat julle doen.”
Putter het die Goue Leeus se onlangse Curriebeker-oorwinning as voorbeeld gebruik en gesê die span het twee doelwitte voor oë gehad; om só rugby te speel hulle ? nasie inspireer en om God deur hul rugby te vereer. Na hul oorwinning het hulle eers nagmaal in hul kleedkamer gebruik om God te eer en te dank vir hul oorwinning.
Vandag is Putter gelukkig getroud met twee pragtige kinders. Hy is die outeur van topverkoperboeke wat handel oor sportsielkunde, kinderopvoeding en verhoudinge.
“Putter se getuienis het voorwaar die mans se lewens kragtig aangeraak. Sy eerlike en praktiese aanslag op die daaglikse versoekings wat oor ? man se pad kom, sal ’n blywende effek hê,” vertel Marnus Bergh, prinsipaal van ERA Real Estate in die stad.

NELIE ERASMUS
>>[email protected]

Carel de Villiers, Altus du Plessis, Pieter Koekemoer en Pierre van der Hoff  ontspan vooraf.

Carel de Villiers, Altus du Plessis, Pieter Koekemoer en Pierre van der Hoff ontspan vooraf.