full screen background image

Louis Trichardt-dokter en familie in plaasaanval

1318

Een van vier vermeende plaasaanvallers is dood en drie is steeds soek na ‘n plaasaanval op die Vivopad naby Louis Trichardt Vrydag.
Lappies Labuschagne, ‘n mediese praktisyn, sy vrou, dogter, skoonseun en húl 16-jarige seun woon op die plaas.Labuschagne het Dinsdag aan Polokwane Observer gesê dat aanvallers reeds drie keer die afgelope twee weke by die plaashuise voor Vrydag se gebeure ingebreek het.
Hy vermoed die gebeure is aangevuur deur die feit dat hy ‘n tyd gelede twee Zimbabwiërs op sy jagplaas by Alldays na voorvalle van diefstal in die pad gesteek het. Kort daarna is daar by die grasdakhuis op die jagplaas ingebreek en feitlik alle waardevolle goed in die huis is vernietig.
Daarna is daar twee keer by sy dogter en skoonseun, Freddy Harris se grasdakhuis ingebreek en dieselfde modus operandi, om by die grasdak in te kom, is gevolg.
“Die eerste keer is al my kleinseun se klere en waardevolle artikels soos sy messe ge­steel. Die tweede keer het hulle ‘n kluis, wat met beton toegebou was, met byle oopgekap en ‘n 9 mm handwapen gesteel. Al die jaggewere is vernietig.”
Tydens die keer wat daar by Labuschagne se huis buite Louis Trichardt ingebreek is, is waardevolle artikels gesteel en goedere verwoes. Sy vrou het van die dorp af teruggekeer, onbewus daarvan dat die aanvallers na bewering twee werknemers aangehou het en haar in die motorhuis ingewag het.
“Ons het in 30 jaar nog nooit ‘n huishulp gehad nie, maar die vrou wat toe bykans drie weke lank by ons op die plaas gewerk het, het my vrou se lewe waarskynlik gered deur te gil en haar sodoende te waarsku. Sy het weggekom en die aanvallers het blykbaar besef dat my vrou hulp sou ontbied waarna hulle weggehardloop het.”
Net meer as ‘n week later het die twee gesinne besluit om die Vrydagaand uit te gaan en in die dorp te gaan eet. Hulle was skaars in die restaurant toe hulle in kennis gestel is dat die alarm in die huis afgegaan het. Die groep het besef dat daar probleme op die plaas was en teruggejaag plaas toe.
Harris en sy seun was eerste op die toneel. Daar was volgens hulle twee mans in die huis en een het vanuit die gang in die huis op Harris, wat in die kombuis was, afgestorm. Hy het die man geskiet.
“Die kameras het gewys dat daar vier mans betrokke was. Twee was buite en het weggehardloop, terwyl twee in die huis was. Die ander een wat in die huis was het ook weggekom,” vertel Labuschagne.
Die huise het nou opgegradeerde alarmstelsels en Labuschagne is besig om sterk staalhekke te installeer.
“My vrou wil nie meer dorp toe gaan nie, sy is bang om terug te kom,” vertel hy.
Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder sê niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie en die soektog na die beweerde aanvallers duur voort.

Storie: NELIE ERASMUS
>>[email protected]