full screen background image

Limpopo-sewes eindig 11de in toernooi

416

Die Limpopo-sewesrugbyspan het ‘n algehele 11de plek tydens die jaarlikse o.17-Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) Provinsiale Sewestoernooi verower nadat hulle in die semifinaal teen die Griffons verloor het.
Die toernooi is op 2 en 3 Oktober by Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap aangebied.
Spanbestuurder en hulpafrigter, Regardt Kleingeld sê Limpopo was saam met Griekwas, Boland en Namibië in groep D en het op die eerste dag van die toernooi vir Namibië met 31-14 geklop, maar kon nie die mas teen Griekwas (24-31) en Boland (12-19) opkom nie.
In die kwarteindronde van die uitspeeltoernooi het Limpopo vir Natal met 19-10 gewen en deurgedring na die semifinaal teen die Griffons.
“Teen halftyd was ons reeds 5-19 agter, maar na goeie spel deur Danny Mokobane en Stefan Engelbrecht in die tweede helfte het die eindfluitjie op ‘n telling van 26-elk geblaas. Ekstra tyd is gegee en die span wat eerste ‘n drie druk is as wenner gekroon,” sê Kleingeld.
Hy sê Limpopo was op die aanval en tydens ‘n losskrum is die bal deur die Griffons opgetel. Die Griffons-spelers het deur Limpopo se verdediging gehardloop en ‘n drie gedruk. Die eindtelling was 26-31 en Limpopo moes met die algehele 11de plek tevrede wees.
“Tyrone Thomson (Hoërskool Pietersburg), Danny Mokobane (Hoërskool Ben Vorster), Stefan Engelbrecht (kaptein van Ben Vorster) en Marnus Uys (Hoërskool Piet Potgieter) het tydens die toernooi uitgeblink,” sê Kleingeld.

RC Myburgh
>>[email protected]