full screen background image

Limpopo Jongboer van die Jaar glo in krag van onderwys

1254

Christoff Smit, 32-jarige boer van die Hendri Pieterse Boerdery in die Loskopvallei buite Groblersdal, is Vrydagaand by Bolivia Lodge as Agrilimpopo se Jongboer van die Jaar aangewys.
Smit boer saam met sy pa Hendri, ma Petra en broer Gert. Die gesamentlike boerdery bestaan uit tafeldruiwe, sitrus, akkerbou en ‘n Bonsmara-stoet.
Nadat Smit ‘n BCom-graad verwerf het, het hy die platteland bo die korporatiewe leer gekies en by die familieboerdery aangesluit.
Sy groot liefde vir beeste en sy sin vir uitnemendheid het hom gou gevestig as ‘n Bonsmara-stoetteler en so is Sebadja Bonsmara gebore. Hy het geld van vakansiewerk wat hy as student gedoen het gebruik om sy eerste stoetvee aan te koop en deurentyd die beste moontlike gene by erkende Bonsmara-telers aangekoop.
Hy het gou ‘n leidende rol onder Bonsmara-telers begin speel en is tans lid van die Nu-Alcade Bonsmaragroep.
As tiener het Smit grootgeword in ‘n ouerhuis waar sy pa ‘n voorbeeld in boerdery- en bestuurs­praktyke kon stel. Sy ma was die tafeldruiweboer en administratiewe beampte van die boerdery.
Besproeiingspraktyke het vinnig sy belangstelling geprikkel en weens beperkte waterbronne het hy nuwe stelsels begin implimenteer.
Saam met kundiges op die gebied het Smit die Puricure-stelsel, wat osoon (O3) by besproeiingswater voeg en sodoende alge of organiese afvalstowwe uit die water verwyder en suurstof terugplaas, ontwikkel.
Smit is verantwoordelik vir alle produksie op al die plase en, saam met sy broer wat al die bemarking behartig, besluit hy oor die relevansie van ou kultivars en die vestiging van nuwe kultivars soos die mark vereis.
Deur so nou saam met sy bemarker te werk, kan hy ingeligte besluite op uitvoerende vlak neem. Hy kan ook al die besproeiing op al die plase van sy rekenaar af beheer.
Smit se toekomsvisie is om toenemend effektief te boer, ’n kwaliteitproduk op die mark te plaas, optimaal van beskikbare hulpbronne gebruik te maak en om ‘n beter toekoms vir die boerdery en sy werkers te verseker.
Hy glo dat onderwys, opleiding en opvoeding die mees effektiewe pad na bemagtiging is en sê dat dit een van die grootste redes vir die sukses van die boerdery is.
Sy vrou Mariana ondersteun hom in alles wat hy doen en die egpaar woon op die plaas Krokodilsdrift saam met hul seun, Stoffies.

BARRY VILJOEN
>>[email protected]