full screen background image

Limpopo Bulle sterker in amateurliga

444

Die Limpopo Blou Bulle het goed presteer tydens verlede week se Noordelike Amateurliga wat in Mbombela gehou is.
Die vyftiental wat uit BB Truck Noordelikes-, Northam Rhinos- en Letaba-spelers bestaan het, het hul eerste wedstryd verlede Maandag teen die Leeus met 17-60 verloor, maar het terugbaklei toe hulle Woensdag teen die Valke te staan gekom en met 38-24 geseëvier het.
Vrydag het hulle teen die Blou Bulle kragte gemeet en hoofafrigter, Frederick Romijn sê hoewel dit ‘n harde wedstryd was, het Limpopo hulle nie laat afskrik nie.
Limpopo kon in dié naelbytwedstryd slegs 10 punte teenoor die Blou Bulle se 11 aanteken.
“Die amateurliga is nie ‘n maklike uitdaging nie. Spelers speel drie harde wedstryde gedurende die week lange toernooi en hulle energie word gedreineer. Hulle kry min rus en sommige moes met seer lywe weer op die veld draf,” sê Romijn.
Hy sê ander afrigters en spelers het verskeie komplimente vir die Limpopo Blou Bulle-span gehad.
“Ons het goeie rugby gespeel en die span was goed voorbereid. Ander spelers kon sien dat Limpoporugby besig is om sterker te word en dat daar definitief met ons rekening gehou moet word,” sê Romijn.

RC Myburgh
>>[email protected]