full screen background image

Limpopo Blou Bulle Saterdag in semi-finaal

829

Dit is nie net die Springbokke wat rugby-liefhebbers van Limpopo die naweek trots gemaak het met hul oorwinning teen Samoa in die Rugby Wêreldbeker nie. Op plaaslike vlak het die Assupol Limpopo Blou Bulle se o.21-span na die semi-finaal van die Absa Curriebeker deurgedring.
Die Limpopop Blou Bulle sal Saterdag in Wellington teen Boland uitdraf.
Tydens die naweek se kragmeting op die Peter Mokaba stadion het die o.21-span met 35-19 oor die Valke geseëvier. Die Bulle se David Pieterse, Done Davids en Salomon Botha het elk vyf punte aan hul span besorg nadat hulle agter die doellyn gekuier het. Jean Botha het twee drieë aangeteken en met vyf doelskoppe geslaag.
Grobler het sedert die eerste helfte ‘n goeie aanvallende spelpatroon gevolg en binne die eerste agt minute die eerste drie gedruk.
Die o.19-span was nie so gelukkig nie en het hul Curriebeker-stryd teen die Valke met ‘n 19-36 loesing afgesluit. Die Bulle het hard verdedig, maar moes drie drieë tydens die eerste helfte afstaan.
Blou Bul, Martin Shioma kon twee minu-te voor halftyd daarin slaag om deur die verdediging van die Valke te breek en oor die doellyn te duik. Tydens die tweede helfte het George Letshuma en Heinrich du Plessis ook elk vyf punte aan die span besorg met Dane Kotze wat twee keer die bal tussen die pale kon deurstuur.
Limpopo Blou Bulle-kantoorbestuurder, Charles van Wyk sê die o.21-span aan alle verwagtinge voldoen en Boland reeds een keer in die uitspeelfase geklop het.
“Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat hulle in die semi-finaal speel en ons hoop dit is ’n geval van die derde keer is skeeps-reg,” sê Van Wyk.

RC Myburgh
>>[email protected]

Dean Steinberg, o.19 maak kontak met sy opponent.

Dean Steinberg, o.19 maak kontak met sy opponent.