full screen background image

Leerders maak verskil tydens skoolvakansie

612

Twee graad 10-leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS), Johann Jordaan en Luca Nel het die afgelope week van hulle vakansietyd opgeoffer om by die Theunis Fichardt Hospitium en die Tough Living with Cancer (TLC)-saal van die Polokwane Provinsiale Hospitaal hand by te sit.
Die twee leerders het vir ‘n lewensoriënteringstaak drie dae lank elke dag ‘n uur se gemeenskapswerk by die instansies verrig.
Die twee seuns het aan Polokwane Observer vertel dat hulle juis op Kansa besluit het omdat vrywilligerswerk by hierdie organi-sasie buitengewoon was. Hulle medeleerders wou eerder by toevlugsoorde of ouetehuise gaan uithelp as om by Kansa betrokke te raak omdat dit moontlik emosioneel uitmergelend kan wees.
Beide het gesê hulle voel hulle het die regte besluit geneem en dat die werk goeie ervaring was.
“Dit is wonderlik dat die opdrag ons die geleentheid gee om liefdadigheidswerk te doen in plaas daarvan om net navorsing te doen,” het Luca verduidelik.
Die twee jong Samaritane het gehelp om nuwe voorraad by die hospitium uit te pak, opgeruim en tyd saam met die jong pasiënte van die TLC-saal deurgebring.
Bobby Were, Kansa Limpopo se TLC-fasiliteerder het gesê dit was wonderlik om te sien wat die twee jong manne verrig het en om te weet dat hulle op ‘n jong ouder-dom besluit het om Kansa Limpopo te onder-
steun.
Die twee is selfs na afloop van hul besoeke met sertifikate verras.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>[email protected]

Tshephiso Kopong en Johann Jordaan.

Tshephiso Kopong en Johann Jordaan.