full screen background image

Langasem wil geld vir dowes insamel

367

Polokwane se langafstandatleet van formaat, Johan van der Merwe is gereed om Saterdag om 09:00 in die jaarlikse 100 Capital Classic in Pietermaritzburg weg te spring en tot op 26 September te hardloop.
Vanjaar wil hy nie net vir sy liefde vir die sport deelneem nie, maar ook geld insamel vir die St Vincent Skool vir Dowes in Johannesburg.
Geld word gewoonlik vir dié skool tydens die jaarlikse ELB Extreme Challenge, ‘n aflos tussen fietsryers en atlete vanaf Villiers na Pietermaritzburg, ingesamel, maar Van der Merwe wil nou reeds met sy deelname aan die 100 Capital Classic help om hul fondse aan te vul.
Die Capital Classic bestaan uit ‘n roete van presies 1 km wat vir ses dae lank aaneen gehardloop word. Die Suid-Afrikaanse rekord is 815 km in ses dae en Van der Merwe se eie beste afstand is 516 km.
“Mense het die geleentheid om my op drie maniere te borg. ‘n Vasgestelde bedrag vir elke kilometer wat ek binne die ses dae voltooi, ‘n vasgestelde bedrag vir elke kilo­meter nadat ek my persoonlike rekord van 516 km verbeter, of ‘n vasgestelde bedrag per kilometer nadat ek die nasionale rekord van 815 km verbeter,” sê Van der Merwe.
Hy sê sy doel is om so na moontlik aan die nasionale rekord te kom of om dit te verbeter. “Geld word nie net vir ‘n goeie doel ingesamel nie, maar ek word terselfdertyd gemotiveer om verder te hardloop en so­doende meer geld in te samel,” sê hy.
Volgens Van der Merwe is enige bedrag welkom. “Selfs 25c per kilometer is ‘n bydrae. Mense wat belangstel, kan hul naam en van, die opsie en bedrag vir my na 082 877 3640 SMS. Na die kompetisie sal ek laat weet hoeveel elke borg moet opdok,” sê hy.

RC Myburgh
>>[email protected]