full screen background image

Krieketspeler kry bal teen kop

423

“Dit is my eie domheid. Ek kon dood gewees het.”
So sê Eagles Krietketklubspeler, Bradley Pieterse wat Sondag in die Netcare Pholoso Hospitaal opgeneem is nadat hy tydens ‘n krieketwedstryd in die stad teen die Hornbills Krieketklub van Tzaneen teen sy kop raakgeboul is.
“Ek het sonder ‘n skermpet gespeel. Die bal het my net bokant die regteroor getref en ek het voor die paaltjies inmekaargesak. By die hospitaal het ‘n dokter bevestig dat ek harsingskudding sowel as breinkneusing opgedoen het,” het hy Dinsdag gesê. Hy is eers Maandagmiddag uit die hospitaal ontslaan.
Sommige seniorklubspelers verkies om sonder skermpette te kolf omdat dit gemakliker is. Seniorspelers is ook nie verplig om met skermpette te speel nie, alhoewel skeidsregters spelers waarsku oor die gevolge, sê Pieterse.
Eagle-speler, Dewald Weterman sê dit is ‘n speler se eie keuse om ‘n skermpet te dra ten spyte van die gevare. “Reëls moet eintlik ingestel word om spelers te verplig om skermpette te dra soos in die geval van skolespelers,” sê hy.
Kolwers op skolevlak is verplig om skermpette te dra, selfs spelers wat veldwerk naby die kolwer doen.
Die administratiewe liggaam van provinsiale klubkrieket, Limpopo Impala Cricket se klubkrieketadministrateur, Sedibu Mohlaba het beaam dat skermpette vir seniorspelers nie ‘n vereiste is nie en dat skeidsregters elke kolwer wat tydens ‘n wedstryd op die veld stap, moet waarsku oor die gevare van so besluit.
“Na Sondag se voorval het Impala Cricket memorandums aan alle klubs gestuur met die waarskuwing dat die dra van skermpette nou verpligtend is,” sê Mohlaba.
Hy sê die reël sal later by Limpopo Impala Cricket se beleid gevoeg word.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]

Foto: Bradley Pieterse van die Eagles Krieketklub is ernstig beseer nadat hy tydens ‘n wedstryd Sondag met ‘n bal teen die kop getref is. Hy het geen skermpet gedra nie.




Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *