full screen background image

Kranslegging en eerbetoon vir konsentrasiekamp se slagoffers

1285
Henlou Wepener en Dinita Olivier van die Doornkraal Voortrekkerkommando steek ‘n fakkel aan tydens die eerbetoonseremonie.

Henlou Wepener en Dinita Olivier van die Doornkraal Voortrekkerkommando steek ‘n fakkel aan tydens die eerbetoonseremonie.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>[email protected]

Emosies het hoog geloop by die Pietersburg Konsentrasiekampbegraafplaas Sondag, tydens ‘n kranslegging en eerbetoon vir mense wat tydens die Anglo-Boereoorlog in dié konsentrasiekamp gesterf het.
Leerders van verskeie skole en lede van die Doornkraal Voortrekkerkommando, wat die seremonie gereël het in samewerking met die Rapportryerbeweging, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Pietersburg-Doornkraal Geloftefeeskomitee, het hierdie jaarlikse eerbetoon bygewoon.
Tydens die eerbetoon is daar met skriflesing en gebed deur Wynand van Beek, ‘n plaaslike leraar, geopen.
Pietersburg Laerskool (PLS) se spreekkoor en geleentheidspreker Charlie Smidt van die FAK het op gepaste wyse kleur aan die geleentheid gegee.
‘n Fakkel is aangesteek waarna die kinders na die voetkant van die grafte beweeg het om blomme op die grafte te lê.
Die Transvaalse Vierkleur en Vrystaatse
Vierkleurvlae is tydens die seremonie gehys en later halfstok gehang terwyl ‘n minuustilte om die pyn en hartseer van die vrouens en kinders in die kamp te onthou, gehandhaaf is.
Kranse en blomme is by die Beyers-ge-denknaald neergelê om hulde te bring aan die volksmoeders en honderde kinders wat in die begraafplaas ter ruste gelê is.
Afrikaner-kultuurleier, Johan Willemse het gesê dat vanjaar se seremonie meer besoe-kers as die vorige jaar gelok het, en dit wys dat Afrikaners trotser op hulle kultuur is.
Die Pietersburg Konsentrasiekampbegraafplaas was die mees noordelike konsentrasiekamp waar vrouens en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog saam met lede van die Buys-gemeenskap ingeperk is.
Die kamp is op 11 Mei 1901 geopen. Die eerste sewe sterfgevalle is reeds in Mei dieselfde jaar aangemeld.
Die konsentrasiekamp het ‘n hoë dodetal gehad as gevolg van die haglike omstandighede waarin die vrouens en kinders geleef het en die kamp is op 7 Februarie 1903 gesluit.




Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *