full screen background image

Jong sanger, liedjieskrywer op pad na Amerika

692

Frederick Fourie, ‘n 13-jarige Curro Heuwelkruin-leerder, glo wanneer God vir jou ‘n talent gegee het, jy dit ten volle moet ontwikkel, gebruik en uitleef.
Wanneer Frederick sy mond oopmaak om te sing, laat hy vinnig koppe uit ongeloof draai. Die jong seun se stem dra klanke wat selfs beoordelaars van die South African Talent Championship (Satch) se nasionale ronde in Midrand vroeër vandeesmaand se monde laat oophang het.
Frederick het verskeie toekennings tydens die kompetisie, waar deelnemers van regoor die land aan items soos modelwerk, toneelspel, dans, instrumentale opvoerings en sang deelneem, verwerf.
Hy het goue toekennings vir die opesolo- (87%), popsolo- (86%), rocksolo- (86%), Afrikaanssolo- (88%) en liedjieskrywerkategorieë (87%) ontvang. Hy het ook ‘n platinumtoekenning met 90% vir sy gospelsolo by sy prestasies gevoeg.
Die talentvolle Kruinie het die algehele eersteplek in die liedjieskrywerkategorie opgeraap en algeheel tweede in die Afrikaans- en gospelsolo-afdelings gekom.
Frederick se bors het nog meer geswel nadat hy gekies is om deel van ‘n groep nasionale wenners te wees om aan die Actors, Models and Talent for Christ (AMTC) Shine Convention in Orlando, Florida deel te neem.
“Sodra ‘n mens vir die AMTC ge-kies is, kan jy enige tyd gaan wanneer dit aangebied word. Ek sal eers gaan wanneer my stem gebreek het,” sê Frederick.
Die AMTC is ‘n sesdagkongres wat jaarliks aangebied word. Die doel daarvan is om mense met godgegewe talente in direkte kontak met professionele mense in die vermaakindustrie te bring. Deur vertonings, seminare en onderhoude word die kunstenaars voorberei om die sendingveld te betree of om rolmodelle te wees in ‘n wêreld wat goeie rolmodelle bitter nodig het.
“Die nasionale ronde van Satch was ‘n ongelooflike ervaring. Ek het dit eintlik vir die ondervinding gedoen en nie gedink ek sal so goed presteer nie,” sê Frederick nederig.
Hy sê liefde vir sing kom van kindsbeen af.
“Ek sing al vandat ek vier jaar oud is saam met my pa in die kerk en sien dit as ‘n manier om my dankbaarheid teenoor God te wys. Dis ‘n talent wat ek ontvang het en moet beoefen. Dit is vir my lekker om te sien dat ek ander mense kan vermaak,” sê Frederick, wat verlede jaar as wenner van die sangafdeling in Laerskool Pietersburg-Oos se Osies Got Talent-kompetisie gekroon is.
As jong liedjieskrywer kry hy sy inspirasie van sy emosies en erva-ringe wat hy elke dag beleef. Tans fokus hy daarop om gospelmusiek te skryf.
“Ek hou die meeste van Afrikaans- en gospelmusiek. My droom is om eendag ‘n professionele sanger te word en die wêreld plat te toer,” sê hy.

RC Myburgh
>>[email protected]