full screen background image

Job se geduld nodig by werkloosheidsversekering

640

‘n Senior burger van die stad beweer dat inwoners wat by die departement van arbeid se kantore in Landdros Maréstraat om werkloosheidsversekeringsvoordele aansoek doen moedeloos is oor die lang toue en onvoldoende geriewe waarmee hulle daagliks gekonfronteer word.
Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het vertel dat sy verlede Dinsdag by die kantore aangemeld het en ongelukkig is oor die behandeling wat sy ontvang het.
“Die personeel is bot en glad nie behulpsaam nie. Ek was al vroeg daar en die beskikbare stoele was reeds beset. Omdat ek ‘n probleem met my enkel het, het ek by die toonbank verneem of daar nie vir my sitplek voorsien kan word nie. Die amptenaar wat my te woord gestaan het, het my aangeraai om ‘n doktersbrief te gaan haal voordat sy ‘n spesiale reëling vir my sou tref,” het die ontstoke vrou aan Polokwane Observer vertel.
Volgens haar het sy reeds op 31 Augustus vir die eerste keer by dié kantoor aangemeld, maar is na ‘n lang wag meegedeel dat sy eers verlede Dinsdag, op die eerste dag van die maand nadat haar dienste beeïndig is, gehelp kon word.
Sy is glo later van ‘n stoel voorsien nadat sy na die kantoor van ‘n beampte geneem is en daar in ‘n argument met amptenare betrokke was. Sy beweer dat hulle haar van rassisme beskuldig het.
Teen 16:00 het die kantoor gesluit sonder dat sy vir haar voordele kon aansoek doen en sy het verlede Woensdag teruggegaan.
Toe sy om 14:00 steeds nie gehelp is nie, het sy by die toonbank navraag gedoen en is meegedeel dat die stelsel van lyn af is. Sy is uiteindelik gehelp net voordat die kantoor gesluit is en is glo meegedeel dat sy oor 35 dae oor die uitslag van haar aansoek kan navraag doen.
Amalia Mothata, woordvoerder van die departement van arbeid in Limpopo, het bevestig dat die departement van die klaer en haar klagte bewus is.
Mothatha het beweer dat die vrou uit die staanspoor rassisties opgetree het en ‘n amptenaar direk en op vyandige wyse gekonfronteer het.
Volgens die departement het die klaer by ontvangs verbygestap sonder om in te teken of te registreer en na bewering met meer as een amptenaar in argumente betrokke geraak en die beamptes van rassisme beskuldig.
Mothata het die versekering gegee dat alle amptenare van die departement alles in hulle vermoë doen om die publiek so vinnig moontlik te help en dat registrasies met die hand gedoen word wanneer die stelsel van lyn af is.

Storie: BARRY VILJOEN
>>[email protected]