full screen background image

Jagters vas oor beweerde smokkel met swartwitpense

613

Die professionele jagter, Theo Bronkhorst, wat onlangs opslae in die media gemaak het na sy beweerde betrokkenheid by die jag van die swartmaanhaarleeu, Cecil in Zimbabwe, is saam met drie ander Suid-Afrikaners glo weer in die moeilikheid; dié keer oor beweerde onwettige smokkel van 29 swartwitpense.
Volgens nasionale media word Bronkhorst in die Hillside-polisiekantoor aangehou terwyl Edwin Hewitt, Hendricks Johannes Blignaut en John Herbert Pretorius van Bela-Bela in die Beitbrug polisieselle is.
Bronkhorst sou na verwagting binne die volgende paar dae na die Beitbrug-polisieselle oorgeplaas word waar die mans ook in die hof sou verskyn.
Hulle is Maandagmiddag in hegtenis geneem.
Daar word beweer dat die Zimbabwiese polisie ‘n sterk saak teen Bronkhorst het vir sy betrokkenheid by die smokkel van swartwitpense.
Dié wild is per vragmotor vanaf Zimbabwe na Suid-Afrika vervoer, maar die vragmotor het glo sowat 20 km wes van Beitbrug, waar Hewitt, Blignaut en Pretorius die Limpoporivier glo onwettig wou oorsteek, in modder vasgeval.
Die polisie het daar op hulle afgekom en geen geldige vervoerpermit kon glo verskaf word nie.
Die vier sal na verwagting vandag (Donderdag) in die Beitbrug Landdroshof in Zimbabwe om borgtog aansoek doen.
Plaaslik kon geen bevestiging oor die voorval van die polisie gekry word nie.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]