full screen background image

Inbreker blitsig gestuit danksy flink optrede van GPF en polisie

406

Die flink optrede van die Polokwane polisie sowel as Sektor 4 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)-bestuurder, Marumo Mphahlele, het daartoe gelei dat ‘n vermeende inbreker op heterdaad betrap is terwyl hy Dinsdagoggend by ‘n huis in Ooststraat ingebreek het. Die jong inbreker sou na verwagting gister (Woensdag) in die Polokwane Landdroshof op aanklagte van huisbraak en diefstal verskyn en die polisie is na ‘n tweede verdagte op soek.
“Die man wat in hegtenis geneem is, het reeds die naam en adres van die tweede verdagte aan die polisie verskaf en ons is warm op sy spoor,” het Polokwane polisie-kommunikasiehoof, Ntobeng Phala gesê.
Die vermeende inbreker het glo aan die polisie gesê dat hulle toegang tot die huis verkry het deur die venster te breek en die diefwering te buig. “Een was glo in die huis met ‘n sak waarin hy items soos ‘n kamera en skootrekenaar geplaas het, terwyl die tweede verdagte buite wag gehou het. Die buurman, ‘n kolonel in die polisie het onraad vermoed, die twee gewaar en dadelik die polisie gekontak,” sê Phala.
Volgens ooggetuies het Mphahlele binne minute by die huis opgedaag. Die blitspatrollie was ook binne vier minute op die toneel. Die tweede man het op die vlug geslaan toe hy sien die polisie slaan toe terwyl die ander een onwetend in die huis voortgegaan het. “Hy is in die huis met die gesteelde goedere betrap,” sê Phala.
Mphahlele sê goeie samewerking deur lede van die publiek, GPF-lede en die polisie werp altyd vrugte af.
“Ons het reeds gewaarsku dat inbrake nou bedags meer voorkom omdat strate deeglik deur lede van die GPF snags gepatrolleer word. Mense wat enige verdagte persone bedags in strate opmerk, moet dadelik die GPF of polisie skakel,” sê hy.­

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]

Foto: Polisielede ondervra ‘n verdagte wat Dinsdagoggend op heterdaad betrap is nadat hy glo by ‘n huis in Ooststraat ingebreek het.




Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *