full screen background image

Hoosain Omar beloon vir 33 000 km mylpaal

441

Hoosain Omar (70), ’n mediese praktisyn van die stad, is verlede week deur Run/Walk For Life vereer nadat hy 33 000 km se­dert hy in 1992 by die program aangesluit het, afgelê het.
Hy is een van vier Run/Walk For Life-lede landwyd wat met ’n pienk staptrui vir sy volgehoue deelname vereer is.
Run/Walk For Life is ‘n drie-dae-per-week-oefenprogram en is vir enige ouderdomsgroep geskik. Die program bevorder gewigsverlies, verminder stres en het verskeie ander mediese voordele.
“Ek het sedert skooldae geweet ek kan nie hardloop of rugby speel soos die meeste ander kinders nie, maar ek kon lang afstande stap. Ek het toe reeds ‘n groot liefde vir stap ontwikkel omdat ek soveel genot daaruit geput het,” sê Omar.
Vir hom is stap ’n daaglikse aangename ervaring. “Bene­wens die gesondheidsfaktore van stap, geniet ek die geselskap van medestappers en veral my vrou, Rashida,” sê hy.
Hy het al aan verskeie wedlope soos die Walk the Talk in Johannesburg en die Nylstroom tot Warmbad-staptoer deelgeneem.
“Benewens die weeklikse oefening by Polokwane Run/Walk For Life, stap ek elke Sondag 15 km en kan nie wag vir my beker warm sjokolade wat na die tyd vir my wag nie,” skerts hy.
“Was dit nie vir die onge­looflike ondersteuning van ons voorsitter, Kobie Marais en ander klublede nie, sou ek dit nooit gehaal het nie. Hulle maak dit aangenaam om weekliks klub toe te kom en gesellig saam te stap,” sê Omar.
Omar sê hy sal aanhou stap solank sy bene hou. “Ek het onlangs gedroom ek is 90 jaar oud en stap steeds. Dit sal fantasties wees as dié droom waar word,” sê hy.
Die besturende direkteur van Run/Walk For Life, Matthew Grossit het Omar se staptrui verlede Woensdag oorhandig en gesê dit is ‘n eer om stappers soos Omar as lid te hê.
“Hy is voorwaar ‘n voorbeeld vir ander en sy prestasie kan as aansporing vir ander atlete dien,” sê Grossit.

RC Myburgh
>>[email protected]