full screen background image

Holtzhausen is kaptein van Tommie-skip

635

Die onlangse aanstelling van Piet Holtzhausen as hoof van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is verlede Donderdagaand by Bolivia Lodge gevier. Gaste het terselfdertyd ook sy 59ste verjaarsdag gevier.
Holtzhausen het geskiedenis gemaak deur die eerste oudleerder van die skool te wees wat as skoolhoof aangestel word.
Hy het Tom Naudé met ‘n skip vergelyk. “’n Skip wat in die hawe lê is veilig, maar dit is nie waarvoor hy gemaak is nie. ‘n Skip moet vaar en selfs in stormsee sterk kan staan.”
Oor sy beoogde vyfjaarplan het Holtzhau­sen gesê: “Rome is nie in een dag gebou nie en vyf jaar is ‘n kort tydjie om alles in plek te kry sodat die Tommie-naam met eer gedra kan word. Op akademiese gebied moet Tom Naudé die leidende tegniese skool in die land word. Ek sal die skool weer wil sien uitblink op kultuurgebied en planne om ‘n koor te stig is reeds op die tafel. Tommies het in die verlede verskeie Cravenweek-rugbyspelers opgelewer en ons gaan dit weer regkry. Tydens interhoër wil ons weer die wentrofee huis toe bring.”
Hy het leerkragte wat in moeilike tye eie inisiatief geneem en dinge laat gebeur het, bedank. “Dit neem tyd om ‘n skool akademies reg te skud, maar met ‘n fantastiese beheerliggaam, onderwysers en die nodige sisteme in plek, lê daar ‘n blink toekoms vir Tommies voor.”
Oor die leerders sê Holtzhausen dat gemotiveerde leerders presteer en dat hulle verder gemotiveer word deur prestasie. “Ons moet weer trots by leerders kweek. Hul gesindheid moet verander en hulle moet danksy hulle gedrag tussen leerders van ander skole uitstaan. Ons wil ware ambassadeurs vir die skool skep.” Verder het hy die belangrikheid van die ouergemeenskap by die skool asook die interaksie tussen ouers, leerders en die skool uitgelig.
Hoërskool Pietersburg (PHS)-hoof, Willie Schoeman wat verlede jaar vir ‘n wyle as mentor by Tom Naudé aangestel is, het met lof van Holtzhausen se loopbaan as onderwyser gepraat. “Holtzhausen was agter die stuur van die o.17-Cravenweek wat in 2013 in die stad aangebied is, en in die kort rukkie wat hy as hoof waargeneem het, het die Tommies se matriekslaagsyfer vanjaar van 84% na 91% verbeter. Hy is ‘n man wat baie kan vermag en sy hart is op die regte plek om ‘n sukses van die skool te maak.”
Holtzhausen is amptelik deur die ondervoorsitter van die beheerliggaam, Hein Spann tydens ‘n plegtige seremonie ingelyf. Die aand is met samesyn en aandete afgesluit.

RC Myburgh
>>[email protected]