full screen background image

Hoëvlak-bespreking oor landelike veiligheid

536

Die implementering van Limpopo se landelike veiligheidsplan, klassifisering van plaasmoorde as prioriteitsmisdaad en grondbesetting was dié week op die spits gedryf toe burgerregte- en landbou-organisasies brandpunte onderling en met die polisie bespreek het.
Polokwane Observer het verneem van drie afsonderlike vergaderings wat sedert verlede Donderdag in die stad gehou is waartydens verteenwoordigers van Afriforum, Agri-Limpopo en die Transvaalse Landbou-unie (TLU) SA-Noord verskeie kommerwekkende kwessies onderling en met die polisie asook provinsiale kommissaris, Fannie Masemola aangevoer het.
Afriforum se gemeenskapskoördineerder in Limpopo, Morné Mostert, het na Donderdag se kwartaallikse landelike veiligheidsvergadering van die provinsiale polisie gesê hy het idees oor die betrekking van veiligheidsnetwerke by misdaadvoorkoming gedeel.
Met die landelike veiligheidsplan wat blykbaar nie doeltreffend regoor Limpopo geïmplimenteer word nie, kyk Afriforum hoe hulle die gemeenskap kan toerus om hulself te beveilig.
Omdat implementering so stadig is, moet die vermoë vir mense geskep word om eienaarskap van die probleem te neem, het hy verduidelik.
Volgens Mostert is plaasmoorde ‘n groot kommer vir Afriforum wat dit as prioriteits­misdaad wil laat klassifiseer.
Hy het intussen Dinsdag ‘n vergadering
met Agri-Limpopo en TLU bygewoon waar­tydens spesifieke aangeleenthede soos veiligheidsnetwerke bespreek is.
In ‘n dokument wat verlede Vrydag aan Masemola oorhandig is, het AgriLimpopo en TLU-SA Noord 23 punte met betrekking tot aangeleenthede van landelike veiligheid gelys waarop die polisiehoof se raad en die regsmening van die polisie indringend versoek is omdat landelike gemeenskappe moet weet wat hul regte is om ‘n stabiele landelike omgewing te help vestig. Die punte sluit plaasaanvalle, plaasbesettings, brandstigting en brand van weiding, onwettige jag, diefstal van grensdrade, grondhervorming, grondwetlike regte by inhegtenisneming asook skade, beserings of dood veroorsaak deur swak paaie in.
In die dokument aan Masemola is voorsiening gemaak vir handtekeninge van die verteenwoordigers van African Farmers’ Assocation South Africa (Afasa) Limpopo en National African Farmers Union (Nafu) Limpopo, maar die twee organisasies het glo nie opgedaag vir Vrydag se vergadering nie.
Hoof-uitvoerende beampte van Agri Limpopo, Willem van Jaarsveld het gesê die landelike veiligheidsplan van die polisie is reeds in plek op nasionale en provinsiale vlak. “Dit is ‘n wonderlike strategie wat deur boere onderskryf word, maar nie op stasievlak uitgevoer word nie.” Masemola het hul verseker dat strategiedokumente reeds by elke stasie is en dat stasiebevelvoerders dit net moet implementeer.
Van Jaarsveld sê een van die grootste probleme is dat misdaad wat op een plek bekamp word, net weer elders opvlam. “Toe die polisie en boere in Ohrigstad ernstig misdaad beveg het, het dit skielik in Laersdrif begin toeneem.”
Hy het gesê dat daar vorentoe ‘n alliansie tussen organisasies sal moet ontwikkel om die probleme aan te spreek.
TLU SA Noord-streekbestuurder, Drickus Botha het die stelling gemaak dat die polisie nie ernstig oor plaasaanvalle is nie. “Dit is nie ’n prioriteit nie. Boere wat op plase in afwagting sit dat die polisie hulle moet be­skerm, verkeer onder ’n wanindruk,” sê hy en meen dat dit volgens navorsing agt jaar neem om ‘n plaas weer tot op 100% produksie te bring na ‘n gewelddadige aanval.
“Dit is agt jaar wat die land se voedselproduksie daaronder moet ly. Plaasaanvalle is nie net rooftogte of moord nie; dit is ekonomiese sabotasie. Die regering kan nie meer toelaat dat die land se voedselprodu­sente uitgemoor word nie.”

storie: YOLANDE NEL
>>[email protected]
RC Myburgh
>>[email protected]

Foto: Drickus Botha, Willem van Jaarsveld en Morné Mostert.