full screen background image

Herbou van afgebrande landdroshof goedgekeur

440

RC Myburgh
>>[email protected]

Die langverwagte herbou van die Polokwane Landdroshof wat in Oktober 2012 afgebrand het, kan binnekort realiseer nadat die nuutaangestelde Limpopo regterpresident, Ephraim Makgoba Maandag die goedkeuring daarvan bevestig het.
“Die herbouing is tydens ‘n vergadering van die provinsiale infrastruktuur-groepering verlede Woensdag goedgekeur,” sê Makgoba, maar kon egter nie sê wanneer die beplande bouwerk aan die gebou sal begin nie.
“Die murasies gaan glo nie platgestoot word nie. Dit sal bloot nagegaan en skoongemaak word en die howe sal weer op die bestaande struktuur herbou word,” sê Makgoba.
Die departement van justisie se nasionale woordvoerder, Mthunzi Mhanga het Dinsdag belowe om meer inligting rondom die herbouing te verkry, maar kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie. Op 19 Oktober 2012 is Polokwane byna tot stilstand geruk toe die landdroshof in ligtelaaie gestaan het. Die gebou sowel as nabygeleë geboue is ontruim.
Verskeie beweringe is gemaak oor wat die brand kon veroorsaak het. Swaar reën dae lank na die brand het die polisie se forensiese ondersoek belemmer.
In Junie 2013 het provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto bevestig dat die finale forensiese verslag ontvang is waarna die nasionale vervolgingsgesag later besluit het dat niemand vervolg kan word nie.