full screen background image

GPF kommer oor smouse, werksoekers

634

Dwelmsmouse en leeglêers wat op sypaadjies ronddrentel is verlede week tydens ‘n gesamentlike vergadering tussen lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se sektore, verteenwoordigers van die munisipaliteit en die polisie as die grootste bronne van misdaad in Polokwane uitgewys.
Benewens die dwelmhandelaars, veral smouse wat dagga aan leerders en studente in Dorpstraat verkoop, is die toene-mende aantal werksoekers wat heeldag in woonbuurte sigbaar is, nog ‘n groot probleem wat dringend aandag verg.
Polokwane polisie se GPF-voorsitter, Frans Kgasago sê die vergadering was daarop gemik om probleme aan te spreek en onder polisie se aandag te bring.
“Ons het ‘n probleem met smouse, veral op die hoek van Dorp- en Collegestraat, wat glo dagga aan studente en leerders verkoop. Die feit dat leerders dit so maklik kan bekom, wek groot kommer.”
Oor werksoekers, veral in Potgieterlaan, sê hy motoriste word nie net lastig geval en uitgelok nie, maar onsedelike gedrag is ook ‘n probleem. “Hul urineer teen mure, skep ‘n gesondheidsrisiko en intimideer glo leerders wat na skool huis toe stap,” sê hy.
Kgasago sê dat aktiwiteite in die middestad buite beheer raak.
“Daar word daagliks dagga en pornografiese CD’s by die taxistaanplek op die hoek van Kerk- en Paul Krugerstraat verkoop. Algemene rooftogte word ook daagliks in dieselfde gebied aangemeld en oorbevolking is kommerwekkend,” sê hy. Volgens hom woon tot 40 mense in een huis by eiendomme in Bok- en Dahlstraat en elektrisiteit en water word op onwettige wyses verkry.
Intussen is ‘n verdagte verlede Woensdag in Bendorrylaan deur lede van die GPF aangekeer wat die polisie glo verwyder en stasie toe geneem het. Volgens ‘n bron is die man glo die volgende dag vrygelaat.
“Hy is later die aand weer deur GPF-lede vasgetrek waar hy glo by ‘n venster van ‘n huis gepeuter het en vermoedelik wou inbreek,” sê die bron.
Polokwane polisie se hoof van kommunikasie, Ntobeng Phala kon nie die voorval bevestig nie, maar het gesê dit sal ondersoek word.
Oor die bewerings van dagga wat aan studente en leerders verkoop word, sê hy: “Die polisie sal dringend aandag aan die probleem skenk. Juis omdat die kwessie die land se jonger generasies beïnvloed, kan ons dit nie ongesiens laat verbygaan nie. ‘n Plan van aksie sal met die nodige rolspelers bespreek word om hierdie misdrywe hok te slaan.”

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]

Foto: Verskeie rolspelers van die GPF het verlede week bymekaar gekom om probleme in die stad te bespreek.