full screen background image

Gewapende rooftogte neem toe en sakekamer wil ingryp

656

Polokwane Sakekamer het gister (Woensdag) aangedui dat die drastiese toename in gewapende rooftogte in en om die stad onaanvaarbaar is en hoop op spoedige samesprekings met die polisie.
Sakekamerpresident, Simphiwe Mdlalose sê: “Ons is bekommerd oor die aantal voorvalle wat gereeld aangemeld word. Benewens gewapende rooftogte is daar ander misdade soos diefstal en inbrake wat veral besighede in die sakekern knou.”
In die huidige swak ekonomiese siklus is rooftogte en inbrake die laaste ding wat besighede kan bekostig. “Besigheidseienaars word gedwing om meer geld op sekuriteit te spandeer of skade aan geboue te herstel en gesteelde items te vervang. Daar moet dringend oplossings vir die misdade gevind word,” sê hy.
Voorvalle in stad aangemeld
Tydens ‘n voorval verlede Dinsdag is ‘n motor van Madiba Motors op die hoek van Grobler- en Kerkstraat vermoedelik deur ‘n polisiereservis gesteel.
Die man het glo die handelaar verskeie kere besoek en Dinsdag in polisie-uniform opgedaag en ‘n Volkswagen Polo saam met ‘n ver­koopsman toetsbestuur.
“Die verdagte het, nadat hulle vertrek het, ‘n pistool op die verkoopkonsultant gerig en hom beveel om uit die motor te klim. ‘n Verbygaande patrollievoertuig is van die voorval ingelig en die verdagte is buite die stad, waar hy brandstof wou ingooi, vasgetrek,” sê Polokwane polisiewoordvoerder, Nthobeng Phala.
Verlede Vrydag is Liezl Meyer in ‘n winkel in Jorissenstraat aangehou. “’n Man het ingekom en gevra waar die tegnikus is. Ek het gesê hy is uit waarna die man seker gesien het ek is alleen in die winkel. Hy en twee ander het teruggekeer, my op die stoel vasgedruk en geld geëis,” sê sy.
Hulle het glo haar handsak uitgegooi, haar en die eienaar se selfone gevat en op die vlug geslaan toe kliënte instap. “Een het vir my gesê: ‘You should not be alone. You are such a pretty girl’ terwyl hy oor my hare en rug gestreel het. Die kliënt het eers besef wat aangaan toe die mans weg is,” sê Meyer.
In nog ‘n voorval is ‘n Zimbabwiese man wat dollars in rand by ‘n nabygeleë bank omgeruil het, glo kort daarna deur ses gewapende mans beroof. Volgens ‘n ooggetuie is die slagoffer se voertuig ook gebuit. Phala kon nie die voorval bevestig nie.
In die jongste voorval is ses gewapende rowers Dinsdag op die N1 naby Pienaarsrivier vasgetrek nadat hulle vermoedelik by ‘n rooftog by Ackermans in Bela-Bela betrokke was. “Ses mans het die winkel omstreeks 09:30 ingestorm. Drie was met pistole gewapen en hulle het kontant en klere gesteel waarna hulle in ‘n minibustaxi gevlug het,” sê provinsiale polisiewoordvoerder, Ronel Otto.
Die voertuig is deur die polisie se snelwegpatrollie voorgekeer en verdagtes is gearresteer. Die gesteelde goedere en die vuurwapens is ook in hul besit gevind.
Gewapende rooftogte is een van polisie se grootste uitdagings.
Otto sê die polisie is bekommerd oor gereelde gewapen­de rooftogte in die provinsie. “Ons kan nie bevestig dat sulke voorvalle toeneem nie omdat ons nie statistieke mag verskaf nie, maar ons kan wel bekendmaak dat gewapen­de rooftogte tans een van die polisie se grootste uitdagings is. Kleiner besighede word algemeen geteiken, veral tydens toemaaktyd. Ons vermoed die meeste slagoffers is besighede wat nie gereeld hul kontant deponeer nie,” sê sy.
Statistiek
Die polisie se statistieke vir April 2013 tot Maart 2014 toon dat daar 313 voorvalle van roof met verswarende omstandighede by die Polokwane Polisiestasie aangemeld is. By stasies in Seshego (380), Westenburg (211), Mankweng (331) en Lebowakgomo (115) is dieselfde sake aangemeld. Statistiek vir Limpopo toon dat 5 180 sulke voorvalle tydens die vorige finansiële jaar aangemeld is, 31,6% meer as in 2012/213.
In die kategorie vir kontakmisdaad in Limpopo is die meeste sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer (12 678) geopen, gevolg deur aanranding (9 078), seksuele oortredings
(6 423) en roof met verswarende omstandighede wat vierde op die lys van misdade lê. Slegs by die Polokwane Polisiestasie het dié misdaad ‘n tweede plek op die ranglys.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]