full screen background image

Duisende stroom na MoN vir World of Wheels-skou

1027

Die tweede jaarlikse World of Wheels-motorskou wat in samewerking met Mall of the North (MoN) en die Limpopo Classic Car Club aangebied is, het volgens die organiseerder, Dirk de Klerk duisende mense gelok.
Die gesogte motorskou het verlede week en veral gedurende die naweek besoekers die geleentheid gebied om voertuie wat sover terug as 1913 dateer, van nader te beskou. Die oudste voertuig was ‘n 1913 Swift wat volgens De Klerk die tweede motor was wat in Kimberley in die Noord-Kaap aangedoen het. “Die voertuig is vermoedelik destyds deur ‘n ryk persoon op die diamantvelde aangekoop,” sê De Klerk.
Besoekers kon hul ook verlustig aan veteraan- en klassieke motors soos Peugeot, Morris, Ford, Hubmobile, Mercedes-Benz en Chevrolet. “Ons het 225 veteraan- en klassieke motors uitgestal wat altyd ‘n groot trekpleister is. Veteraanmotors is tussen 1896 en 1903 gebou en klassieke motors is uitstaande voorbeelde van ontwerp en vakmanskap.
Met die uitstalling van die ovaalbaan-resiesmotors vanjaar kan ons met sekerheid sê dat ons vir oud en jonk gesorg het. Ons probeer ‘n geleentheid vir besoekers skep om die motors van nader te beskou en eerstehands te sien hoe die voertuie destyds vervaardig is en hoe dit met hedendaagse motors vergelyk,” sê De Klerk.
In teenstelling met die ou motors, kon besoekers aan MoN ook die nuutste modelle van BMW, Mercedes-Benz, Nissan, Renault, Volkswagen, Audi, Infinity en Opel op die mark bekyk. Die winkelsentrum se loopruimtes was parkeer met van die luuksste en duurste voertuie.
Dit was veral by Volkswagen Polokwane se uitstalling waar die nuwe Touareg besoekers in hul spore laat stop het. Die Touareg is Volkswagen se grootste voertuig en sekerlik die een met die weelderigste en mees gevorderde veiligheidseienskappe. Met ‘n ruim kajuit wat elegant ontwerp en uitgelê is, maak die Touareg vinnig naam en trek al meer aandag onder potensiële kopers.
Onder die enjinkap skuil ‘n verskeidenheid enjinmodelle. Daar is ‘n 3,0 l V6 dieselaangedrewe enjin beskikbaar in ‘n Luxury- of Escape-klassifikasie of ‘n 3,6-liter V6 petrol. Maar as jy van die groot menere hou is die 4,2-liter V8 diesel die een vir jou. Die enjin lewer 250 kW en 800 Nm wringkrag en die agtspoed Tiptronic ratkas verseker gladde ratwisseling teen lae en hoë snelhede.
MoN bemarkingsbestuurder, Rene van der Merwe sê die skou was ‘n reuse sukses. “Ons grootste verwagtinge is oortref. Ons kan nie genoeg dankie sê vir die motoreienaars sowel as die plaaslike handelaars wat gesorg het dat elke besoeker aan MoN iets het om na die kyk. Volgende jaar maak ons weer so,” sê Van der Merwe.

RC Myburgh
>>[email protected]

Desiné Jooste by ‘n 1913 Hubmobile.

Desiné Jooste by ‘n 1913 Hubmobile.

Volkswagen Polokwane-verkoopspersoon, Kwena Maboya by die nuwe Touareg.

Volkswagen Polokwane-verkoopspersoon, Kwena Maboya by die nuwe Touareg.

Twee honderd vyf en twintig klassieke- en veteraanmotors is uitgestal.

Twee honderd vyf en twintig klassieke- en veteraanmotors is uitgestal.