full screen background image

Du Preez Stoltz bring sterk boodskap met optrede

1615

Tenoor Du Preez Stoltz en sy gesiggestremde sangmaat vir die afgelope 11 jaar, Riaan Naudé, het Vrydagaand ‘n boodskap van besinning gebring aan ‘n groot gehoor tydens die konsert wat ten bate van Pietersburg Maatskaplike Dienste (PMD) by die NG Kerk Pietersburg-Oos aangebied is.
Stoltz het die program ingelei met die vraag: Kind van die Here, ken jy nog jouself? en aan die gehoor gevra om te besin oor waaraan hulle hul sukses meet en wat hulle met dit waarmee hulle in oorvloed geseën is, maak. Naudé het vertel hoe hy as jong kind blind geword het en die blymoedigheid waarmee hy sy situasie aanvaar het en sy sangtalent gebruik om ‘m boodskap te bring.
Die program het onder anders liedere soos Dit is die dag wat die Here gemaak het en ‘n aangrypende vertolking van die Onse Vader deur Stoltz ingesluit.
Die aand is afgesluit met sjerrie, ligte wyn, broodjies en southappies wat met potte geurige sop bygedra het tot ‘n gesellige atmosfeer wat gesorg het dat heelwat besoekers nog tot laat vertoef het. Tamarin van Zyl, een van die direkteure van PMD, het haar dank teenoor die borge van die geleentheid en die gaste uitgespreek en daarop gewys dat die voortbestaan van dié instansie afhanklik is van kerke, besighede en individue se bydraes.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>[email protected]

Du Preez Stoltz op die verhoog.

Direkteur van PMD, Tamarin van Zyl verwelkom gaste by die konsert.