full screen background image

Dawie Groenewald in hof, likwidasiebevel deur SAID uitgereik

2922

Die beweerde baasbrein agter een van Suid-Afrika se grootste renosterstro-pingsindikate, Dawie Groenewald, sy vrou, Sariëtte en agt ander het Dinsdag in die Pretoriase Hooggeregshof verskyn, maar die saak is uitgestel nadat Groenewald se prokureur ‘n aansoek ingedien het wat met beweerde ongrondwetlike aspekte in Suid-Afrikaanse omgewingswetgewing verband hou.
Valke-woordvoerder, Hangwani Mulaudzi het bevestig dat Groenewald en nege ander in die hof verskyn het.
“Die groep staar saam ‘n totaal van 1 872 klagte, wat onder meer permitoortredings, geldwassery, onwettige jag, handel in en verkoop van renosterhorings insluit, asook oortredings van die Wet op Biodiversiteit en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad in die gesig.
“Die argument oor die beweerde ongrondwetlike aspekte van die omgewings-wetgewing sal volgende maand in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor word,” sê Mulaudzi.
Hy sê die groep se verhoor sou Dinsdag begin het, maar sal vir nou opsy geskuif moet word totdat die saak oor die omgewingswetgewing afgehandel is.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se uitvoerende kommunikasiebeampte, Babs Naidoo, bevestig dat ‘n finale likwidasiebevel op 3 Junie vanjaar teen een van Groenewald se sake-entiteite uitgereik is en dat ‘n likwidasiemaatskappy reeds aangestel is.
“Ons is tans nie bewus van die aksies wat geneem is of hoe die proses vorder nie. Ons kan dus nie op die likwidasiemaatskappy se aksies kommentaar lewer nie,” sê Naidoo. Die likwidasiemaatskappy kon teen druktyd nie kommentaar lewer nie.
Polokwane Observer het verlede jaar berig dat Groenewald en sy broer, Janneman deur die Amerikaanse regering van sameswering vir die verkoop van onwettige renosterjagtogte, geldwassery, e-pos-bedrog en die onwettige smokkel met renosterho-rings aangekla word. Dawie sal glo eers in Suid-Afrika verhoor moet word voordat hy op die aanklagte van Amerika kan teregstaan.
Polokwane Observer het ook berig oor ‘n onlangse voorval van renosterstropery op Groenewald se plaas waar een van sy renosterbulle glo naby ‘n voerplek geskiet en die horings gestroop is.

Storie: RC Myburgh
>>[email protected]