full screen background image

CP Louw gekies vir SA rugbyligaspan

757

Plaaslike rugbyspeler, CP Louw is vanjaar vir die sesde keer vir die Suid-Afrikaanse Rugbyliga se nasionale Rhino-span gekies wat moontlik in 2017 aan die Rugbyliga Wêreldbekerreeks sal deelneem.
Die Rhinos is Suid-Afrika se nasio-nale rugbyligaspan. Rugbyliga (rugby league) is ‘n rugbykode wat in 1895 van die rugby-unie kode afgestig het oor hoofsaaklik argumente oor beta-lings aan spelers en is veral in Engeland gewild. Spanne bestaan uit 13 spelers en die reëls is van unierugby gewysig en word deur ‘n vinnige pas en volkontakspel gekenmerk.
Louw is ‘n trotse BB Truck Noordelikes-speler en een van slegs twee Limpopo-spelers in die span. Hy is ongeveer twee weke gelede van die afrigter se keuse om hom by die span in te sluit, verwittig.
Die span speel 25 en 31 Oktober teen Libanon in Brakpan in die kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbekerreeks wat in Australië en Nieu-Seeland aangebied word en sal oor die volgende twee naweke oefenwedstryde teen Engeland in Pretoria speel.
Louw het op skool reeds in rugby presteer en gereeld provinsiale kleure verwerf en is ook vir die Akademie-rugbyweek gekies. Hy het ook op die atletiekbaan uitgeblink, veral in
100 m- en 200 m-naellope.
“Na skool het ek B.Com bemar-king aan die Universiteit van Pretoria studeer en vir die Pretoria Polisierugbyklub gespeel waarna ek gekies is om vir sowat twee jaar klubrugby in Portugal te speel,” sê Louw.
Met ‘n paar rand in die sak het Louw in Pretoria in die bemarkingsveld begin werk en so vinnig gevorder dat sy werkgewer hom in April verlede jaar na Polokwane verplaas het om ‘n tak van die besigheid hier te begin en te bestuur.
“Ek moes iewers my liefde vir rugby voortsit en het Noordelikes genader waarna ek sommer dadelik vir die eer-stespan gekies is. My seisoen het op ‘n goeie noot afgesluit deurdat ek deel was van die Cell C Community Cup-span en die eerstespan wat as vanjaar se Limpopo-ligawenners aangewys is,” sê hy.
Met die intrapslag is hy met ope arms ontvang. “Noordelikes is regtig ‘n lekker klub en die spelers het warm harte. Ons is een groot familie met mense op wie se knoppie jy enige tyd kan druk.”
Hy is trots op sy verkiesing tot die Rhinos.
“Sedert 2010 is ek jaarliks deel van dié 13-manspan. Tydens die eerste jaar het ek junior Springbokkleure ontvang en in 2013 het ek die eer gekry om die groen en goud oor my skouers te trek. As ons die Libanese aan die einde van die maand kan klop, lê daar harde oefening voor om vir die Wêreldbeker voor te berei.”
Kameraadskap is vir hom dié uitstaande eienskap van die sportsoort.
“Daar is ‘n groot mate van broederskap op die veld. Almal het net een doel voor oë en dit is om te presteer. Die ongelooflike onder-
steuning van familie en vriende maak die wil om te wen net sterker.”
Louw oefen gereeld en ry byna elke naweek na Pretoria om saam met die ligaspan te oefen.
“’n Goeie rugbyspeler oefen hard, sorg dat hy fiks is en gee alles op die veld,” is sy bondige suksesresep.

RC Myburgh
>>[email protected]