full screen background image
Cor Müller met die vyf medaljes en trofee as senior Victor Ludorum wat hy tydens vanjaar se interhoër verwerf het.

Cor Müller ryg toekennings in, SA’s wink

3723

Wanneer daar ‘n skielike stilte oor die atletiekveld heers, kan jy byna seker daarvan wees dat Cor Müller, o.17-atleet van Hoërskool Pietersburg iewers op die baan gereed maak vir aksie.
Vanjaar se atletiekseisoen is op sy rug en al wat nog voorlê is die Suid-Afrikaanse kampioenskappe later vandeesmaand waar Cor die skool se naam gaan hooghou.
Cor se prestasies sedert laerskool getuig van ‘n seun wat met elke byeenkoms verbeter en wat steeds daarna streef om hoër hoogtes te bereik terwyl hy die een na die ander rekord laat spat.
Tydens die onlangse interhoër wat by Hoërskool Louis Trichardt aangebied is het Cor goud in hoogspring, 100 m,
400 m, 400 m-hekkies en aflos ingepalm. Benewens dit verbeter hy die 400 m-hekkies rekord met ‘n tyd van 53,69 sekondes en word aan die einde van die dag as senior Victor Ludorum aangewys.
In dié items bly Cor onoorwonne nadat hy goud vir dieselfde items tydens die Janus Robberts Uitnodigingsbyeenkoms en PHS se gradesport verwerf het. Tydens beide byeenkoms word hy ook as die senior Victor Ludorum aangewys. Sy tyd in die 400 m-hekkies van 55,76 sekondes tydens die Janus Robbertsbyeenkoms maak hom die nuwe rekordhouers vir die item.
Vroeg verlede jaar het Cor ernstig onder Deon Jewaskiewitz begin oefen om sy liefde en passie vir atletiek uit te leef. Tydens Janus Robberts 2019 verwerf hy silwer in 400 m-hekkies en dui vanjaar se goue medalje en nuwe rekord daarop dat hy gretig is om aan te hou verbeter.
Cor neem sedert graad 1 aan atletiek deel en wen sy eerste goue medalje in graad 1 vir 80 m. In 2014 is hy vir die eerste span gekies om aan die Suid-Afrikaanse kanpioenskappe in hoogspring deel te neem en word byna elke jaar sedert sy skooldae by Pietersburg Laerskool, in die provinsiale atletiekspan opgeneem. Hy was ook Suidskool se hoofseun in 2016.
Nou berei hy voor vir sy deelname aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Boksburg vir Limpopo Skole Atletiek (Limsa) en vertrek enkele dae daarna na die Paarl waar hy Limpopo Atletiek (Lima) tydens die nasionale kampioenskappe gaan verteenwoordig.
“Vanjaar was uitsonderlik – alles het net reg geloop en in my guns getel. Dit is ‘n wonderlike gevoel om sukses te behaal, maar daar bly altyd plek vir verbetering,” sê Cor.
Hy reken dat hy sy tye kan verbeter as hy meer op tegniek en fiksheid in die 400 m-hekkies fokus. “Ek geniet die 400 m die meeste. Jy is dood na die tyd, maar die item bied die grootste uitdaging want dit is beslis die moeilikste op die baan.”
Cor bly nederig oor sy prestasies en is nie seker wat die pad vorentoe vir hom inhou nie. “Ek wil graag na skool veeartsenykunde of veekunde gaan studeer, maar ook ‘n jaar op plase in Australië gaan werk. Ek is baie lief vir boer en die natuur, maar ek het nog nie vas besluit wat ek eerste gaan aanpak nie – vir nou moet ek eers matriek slaag,” sê Cor en voeg by dat sodra hy begin studeer hy graag by die universiteit se atletiekspan wil aansluit.
Cor is ook ‘n kranige hokkiespeler. Van graad 7 tot 10 verwerf hy Limpopo-kleure en was kaptein van die o.14- en o.16-provinsiale hokkie­span. Vanjaar draf hy trots vir die skool se eerste hokkiespan uit en hoop om saam met sy spanmaats ander skole ore aan te sit.
Sy raad en advies aan atlete is: “Die hoeveelheid werk wat jy insit sal jou resultate bepaal. Werk hard en jy sal vrugte van sukses pluk.”

Story/foto: RC Myburgh
>>[email protected]