full screen background image
Cielie Theunissen

Cielie se maskers sorg vir kos in baie magies

1279

Sowat 120 gesinne wat 300 mense insluit, word tans gehelp deur die NG Oos-Gemeente se koshulpprogram.
Dit is ‘n interkerklike program en volgens Cielie Theunissen van die kerkkantoor, het die getal huisgesinne wat kos nodig het, dramaties gestyg tydens die inperkperiode, soos baie mense se salarisse gesny is en mense hulle werk verloor het of nie betaal word nie.
“Dit is meestal tydelik van aard, want mense se omstandighede verander ook gelukkig weer, en ons is saam met die mense verheug as hulle werk kry of hul omstandighede verbeter,” sê Cielie.
Behalwe donasies wat die kerk ontvang vir kospakkies, is daar een spesiale vrou wat ‘n plan gemaak het om nog meer geld in te samel vir die steeds groeiende behoefte: Ina van Vuuren is ‘n voorslag, ‘n vrou met vele talente: sy bak en doen naaldwerk en maak tussendeur tyd om ook bakkies kerrie-en-rys te maak wat onder die hulpbehoewendes versprei word. Maar sy het ‘n blink plan bedink toe haar skoonseun terug moes keer werk toe en hy maskers nodig gehad het. Sy het reeds vir haar gesin maskers gemaak, en toe vir hom ‘n paar eksta gemaak vir mense wat dalk nie gehad het nie.
Sommer gou-gou het sy bestellings ontvang van mense wat ekstra maskers wou koop, en toe ook van iemand wie se mense sou terugkeer werk toe wat sommer ‘n honderd bestel het.
“Die idee het toe posgevat dat ek dalk moet probeer verkoop om die kerk se kosprogram te ondersteun. Ek doen al jare lank naaldwerk en het baie oorskietlappies, maar dit het opgeraak en toe moes ek gaan materiaal koop. Die volgende week moes ek weer gaan materiaal koop, en toe is dit sommer R10 ‘n meter duurder!” vertel sy. Tans doen sy haar huiswerk soggens en maak maskers in die middae, behalwe as sy ‘n groot bestelling kry. “Een dag sny ek en die volgende dag stik ek die rondings,” vertel sy.
Sy maak maskers met konsertina-voue of gevormde maskers, wat geskik is vir mans en vroue, met twee lae, want anders is dit te dik, vertel sy. “Die maskers slaag die kers-doodblaastoets en is dig,” vertel sy.
Sy maak maskers met rek wat agter om die kop is of by die ore inhaak, en het ook gehekelde “hakies” wat om poniesterte kom of agter die kop vasmaak om die maskers vas te hou.
Die maskers kan op afspraak by die kerkkantoor afgehaal word en ook deur die kerkkantoor bestel word by Cielie. Ina se pryse is billik, en teen R30 per masker word R15 aan die kosprogram geskenk. Spesiale maskers met kant gemaak, is effe duurder. As jy dus maskers benodig en terselfdertyd ‘n goeie doel wil ondersteun, kontak gerus vir Cielie by 082 597 6908.
Donasies vir die kerk se kosprogram is ook welkom en kan op afspraak by die kerkkantoor afgelaai word.
Daar is ook altyd ‘n behoefte aan mense wat kan help met die voorbereiding van gevriesde geregte soos sop, kerrie-en-rys en maalvleisgeregte, waarvan die bestanddele voorsien sal word.
Skakel 082 597 6908 of stuur ‘n WhatsApp.

Storie en foto: Nelie Erasmus

>>[email protected]