full screen background image

Christou gereed vir taak as waarnemende hoof

1122

Werner Christou het in 2004 as studente-onderwyser by Laerskool Piet Hugo ingestap en is slaggereed om vanjaar as waarnemende hoof aan te pak.
Christou wat na 12 jaar by die skool as waarnemende hoof aangestel is, meen hy is bevoorreg om die posisie te beklee en gereed om heelwat lewenslesse te leer.
Christou was self ‘n leerder van die skool, maar sy gesin het in sy graad 2-jaar na Pretoria verhuis.
Dit was ook dieselfde jaar waarin Harry Viljoen, wat onlangs afgetree het, by Piet Hugo as hoof begin werk het. Hoewel hy hom destyds vir ‘n kort rukkie geken het, het hy nooit gedink dat hy eendag saam met hom sou werk en die leisels by hom sou oorneem nie.
Christou het in 2003 aan Hoërskool Centurion gematrikuleer en het aanvanklik ‘n sportloopbaan oorweeg. “My graad 1-onderwyser van Piet Hugo, Hessie Breytenbach, het my oortuig om as studente-onderwyser by die skool in te val. Die geleentheid het ek met beide hande aangegryp omdat ek ‘n verskil in kinders se lewens wou maak.”
In 2011 is hy as departementshoof bevorder. Christou sê hy hy sal die leerders in die klaskamer mis, maar is baie opgewonde oor die nuwe uitdagings. Sy visie vir die skool is om op akademiese- en sportgebied te groei. Hy glo in spanwerk en sien daarna uit om nou saam met die personeel te werk.
Viljoen is sy grootste mentor by wie hy ongelooflik baie geleer het en hy sal hom ewig dankbaar wees. “Ek besef ek het groot skoene om vol te staan, maar met die ondersteuning van my vrou, Chanel, sien ek kans om hierdie reuse taak aan te pak.”

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>[email protected]