full screen background image

Berede eenheid onder soeklig

906

Die oorblywende drie perde van die Polokwane Munisipale berede eenheid wat vir jare ‘n deurslaggewende rol vervul het in die voorkoming en bekamping van misdaad in veral die sentrale sakegebied, is na bewering in so ‘n verwaarloosde toestand dat die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) gisteroggend (Woensdag) ‘n inspeksie ter plaatse uitgevoer het.
Die eenheid word klaarblyklik nie meer operasioneel benut nie aangesien daar nie meer opgeleide ruiters is nie. Volgens ‘n vertroulike bron beplan die munisipaliteit om die perde te verkoop terwyl daar ‘n versoek aan die raad gerig is om die eenheid weer op dreef te kry.
Lede van die portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit van die Polokwane Stadsraad voel egter dat die perde wel gebruik word vir optogte en behou moet word omdat hulle in ‘n goeie toestand is.
Polokwane Observer se bron weerspreek die komitee se bevindings en sê weens die toestand waarin die perde is, is dit onmoontlik om hulle te ry en dat die perde vir die afgelope paar jaar nie meer gebruik nie. “Die perde is aangekoop toe die berede eenheid ‘n paar jaar gelede gestig is. Die perde het al ‘n paar jaar agter die rug en is nie in staat om die werk te verrig wat ‘n jonger perd kan doen nie.”
Die bron het ook aan Polokwane Observer gesê dat daar ongeveer R24 000 jaarliks vir die drie perde van die eenheid begroot word. Dit sluit hulle versorging, voer en veeartskoste in. “As een van die perde siek word, moet die munisipaliteit ‘n enorme bedrag opdok vir ‘n perd wat nie eens gebruik word nie.”
Johan Willemse, raadslid van die Vryheidfront Plus, het aan Polokwane Observer gesê dat daar wel ‘n verslag oor die berede eenheid aan die portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit voorgelê is, maar dat dit na die amptenare terugverwys is nadat raadslede besware oor die verslag aangeteken het.
Die komitee wil wel die berede eenheid weer op dreef kry en selfs uitbrei. Hulle beoog om meer perde aan te skaf en het reeds onderhoude met potensiële ruiters gevoer.
“Om perde te gebruik is ‘n effektiewe manier om misdaad deur middel van partrollies te bekamp. Ons wil die perde benut vir patrollies in die stad asook in die plattelandse gebiede,” sê Willemse. ‘n Tweede bron sê dat die perde goed versorg word en kan nog vir die volgende paar jaar effektief gebruik word. Hy voeg by dat die diere ‘n uitstekende diens aan die gemeenskap kan lewer. Die perde wei gedurende die dag op die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se voormalige perseel in Ladanna. Daar is ook klagte oor die perde se stalle wat op munisipale terrein staan en waaraan glo aandag geskenk moet word.
Teen druktyd het Polokwane Munisipaliteit nog geen kommentaar gelewer nie en was te­rugvoering oor die DBV-besoek nog uitstaande.

Storie: LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>[email protected]