full screen background image

Belowende ­speler nou deel van Presidentspan

1426

Wanneer Heinrich Schoeman in sy rugbytrui is, kan niks en niemand hom keer om alles op die sportveld te gee nie.
Hy is deel van die o.16 Verre Noord-span wat tydens die onlangse Bokkieweek in Kroonstad gewys het waartoe hy op die rugbyveld in staat is. Sy uitstaande spel het aan hom ‘n plek in die o.16 Presidentspan besorg.
Heinrich is die enigste o.16-rugbyspeler van die provinsie wat vir die Presidentspan gekies is wat September oorsee teen ander spanne kragte gaan meet. Dit is nog nie bekend waarheen die prestigespan gaan toer nie.
Die alsydige graad 10-leerder van Hoërskool Pietersburg het reeds verlede jaar as o.15-speler groot belofte in die o.16 Verre Noord-span getoon. Die Bokkie-week het egter uitstekend vir die kranige speler begin toe hy reeds in die eerste wedstryd as speler van die wedstryd aangewys is. “Dit was vir my ‘n groot eer en ek het baie hard gewerk om die
prestasie te behaal,” sê hy be-skeie.
“Ek is baie opgewonde oor die toer en sien daarna uit om my rugby te verbeter en spelers te ontmoet wat dieselfde passie as ek deel. Die toer is ‘n kans in ‘n leeftyd en ek gaan dit met albei hande aangryp. Ek gaan nou harder as ooit oefen om myself voor te berei en die beste rugbyspeler moontlik te wees,” sê Heinrich wat daagliks getrou oefen en gereeld die gimnasium besoek.
Heinrich se ouers, Steven en Michelle Schoeman sê hy was net ses jaar oud toe hy bulletjierugby begin speel het by Laerskool Piet Hugo. Sy ouers is ook sy grootste ondersteuners wat met al sy wedstryde langs die veld is.
“Ons is baie trots op hom. Hy is baie gefokus en pak elke wedstryd positief aan en gee net sy beste op die veld,” sê hulle.
Hy speel tans vir PHS se o.16-rugbyspan en hoop om eendag vir die skool se eerstespan uit te draf. “Wat rugby vir my so spe-siaal maak, is dat jy ‘n wedstryd saam met 14 spanmaats op die veld aanpak wat soos familie vir mekaar is omdat ons ‘n hegte band het. Indien mens nie as ‘n span kan saamwerk nie kan jy nie as rugbyspeler groei nie, omdat jy ondersteuning en hulp nodig het.”
Sy raad aan ander rugbyspelers is dat ‘n mens altyd gefokus moet bly en gereeld moet oefen. Hy sê dat dit belangrik is om jou kop reg te kry en dat jy alles moet insit om jou doelwitte te bereik beste rugbyspeler te wees wat jy kan wees.
Heinrich is nie iemand vir stilsit nie en spandeer ook heelwat tyd op die krieketveld. Hy speel vir Eagles Krieketklub in die stad en hou ook baie van aksiekrieket. En, natuurlik ook kuier saam met familie en veral vriende, soos dit ‘n tiener betaam.
Hy hoop om in die toekoms die oranje trui oor sy kop te trek om vir die Cheetahs uit te draf.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>[email protected]