full screen background image
Alfred Hlongwane, die Wiers-gesin se tuinier, is verlede Woensdag in verband met haar moord in hegtenis geneem.

Wiers-gesin trek uit moordhuis, húl tuinier ook vas

724

Die eerste verdagte in die Tanya Wiers-moordsaak, Frans Maela het Vrydag saam met die Wiers-tuinier, Alfred Hlongwane (45) op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede in die Polokwane Landdroshof verskyn waarna die saak tot later vandeesmaand uitgestel is.
Hlongwane wat van Zebediela afkomstig is, is verlede Woensdag in hegtenis geneem nadat die hof die vorige dag moes aanhoor dat Maela vir Hlongwane in ‘n bekentenis impliseer, maar dat nog geen poging aangewend is om hom (Hlongwane) te arresteer nie.
Ondersoekbeampte Lesibana Mametja het gesê daar is nie genoeg bewyse teen Hlongwane nie, maar landdros Janine Ungerer het gevra of hy al ooit van die term medepligtige gehoor het, juis omdat Maela in sy bekentenis erken het dat hy en Hlongwane saam in die Wierse se huis in Eduanpark was waar die moord op Tanya op 7 Februarie gepleeg is.
Hlongwane het verward voorgekom en tydens die hofverrigtinge aanhoudend gesê dat hy niks met die moord te doen het nie. Ungerer het later die tolk gevra om by Hlongwane te hoor of alles in orde is en of sy hom vir observasie kan stuur omdat hy heeltyd geglimlag het.
Die staat het aangevoer dat die polisieoffisier aan wie Maela die bekentenis gemaak het, nie Vrydag in die hof kon wees nie omdat hy uitstedig was. Ungerer het gelas dat die saak uitgestel word totdat die tweede getuie in die hof kan wees om met Hlongwane se borg­aansoek te begin.
Wiers is op 7 Februarie wreed vermoor nadat sy herhaaldelik met ‘n skêr en mes in die gesig, kop, nek, skouers en hande gesteek en haar oë verwyder is. Haar 16-jarige seun, Rolf (jnr) het op haar liggaam afgekom. Maela, die buurman se tuinier is later dieselfde dag gearresteer nadat ‘n selfoon en tabletrekenaar is sy besit gevind is.
In ‘n gesprek met haar man, Rolf (snr) het hy Dinsdag aan Polokwane Observer bevestig dat die gesin na ‘n veiligheidskompleks verhuis het aangesien die kinders geweier het om langer in die moordhuis te bly. “Die kinders het nie eens hul eie klerekaste met die trekkery gepak nie en wou net wegkom van die nagmerrie wat ons getref het.”
Hy sê dat dit egter onder die omstandighede goed gaan, al beleef hulle soveel wisselende emosies en dat hy veral beïndruk is met die goeie teugvoer wat hy van die onderskeie skole ontvang. Rolf se werkgewer is ook uiters tegemoetkomend en sy kontrakteurswerk is so herskik dat hy vir die afsienbare toekoms elke aand by sy huis sal kan slaap en eers weer Maandag begin werk. Wat die verloop van die hofverrigtinge betref, is hy positief dat geregtigheid sal seëvier en die skuldige of skuldiges wel suksesvol vervolg sal word.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com